Josephine Desgrand (17), van Queensland, Australië, was nog altyd lief vir kos en het alle sport vermy.

Hoewel sy nie aan gemorskos weggelê het nie, het sy groot porsies verorber en vinniger as haar gesin geëet. Die gewoonte het veroorsaak dat sy tot 122 kg en ’n kleregrootte van 46 gestoel het.

Haar gewig het haar van gewone aktiwiteite afgesit en sy het by “ouer” winkels gekoop, wat haar terneergedruk laat voel het.

Al het sy in noupypjeans gepas, het sy foto’s gehaat waarop sy dit dra.

Tot sy eendag gedink het dit is genoeg en besluit het om suiker uit te sny en minder koolhidrate te eet. 

Haar nuwe leefwyse het haar ’n slanke lyf van 60 kg en ’n kleregrootte van 34 help bereik.

Sy kan nou saam met haar kêrel, Morgan Pascoe (19), in haar ou jeans pas.

Foto: Magazine Features.

“Ek is baie lief vir kos. My porsies was groot en ek het altyd baie vinnig geëet. Ma het altyd vir my gesê ek moet stadiger eet, want ek was altyd eerste klaar. Ek het nooit in sport belanggestel nie en sou dit tot elke prys vermy,” sê Josephine.

“Ek het ’n wonderlike gesin en ons het wonderlike ervarings saam beleef, maar ek was baie ongelukkig oor my gewig. 

“Ek het klere-inkopies vermy, want ek moes by die ouer winkels soos Millers ingaan en dit het my baie terneergedruk gemaak.

“Ek onthou toe ek noupypjeans gekry het wat sowaar vir my pas. Ek het dit aangetrek en fantasties gevoel, tot ek ’n foto van my daarin gesien het. Ek wou bitter graag gewig verloor; ek het net niks daaraan gedoen nie.

“Ek het deur siklusse gegaan. Ek wou dit so graag hê, dan het ek vir myself gesê dit is te moeilik om te bereik en myself oortuig ek was tevrede daarmee om oorgewig te wees. 

“Toe hou ek eendag op dink daaroor en doen dit net. Dit klink so maklik. Ek het baie suksesverhale op Google nagespeur; ek het nagevors hoe ek dit sou doen. 

“Ek was voorbereid. Ek wou dit graag hê. En nou het ek op die aha-oomblik gewag wanneer ek wakker word en wil gaan draf of wakker word en glad nie vir suiker lus het nie.  

“Ek het na my vriende gekyk en was jaloers oor wat hulle dra en wat hulle kon doen. Ek het my altyd bekommer oor goed soos in sitplekke pas en om vir verlengstukke vir sitplekgordels te moet vra.”

Foto: Magazine Features.

Nadat sy besef het haar motivering sou nooit kom nie, het sy besluit om haar lewe vir altyd te verander.  

“Ek het suiker heeltemal uitgesny en minder koolhidrate ingeneem. Suiker was die groot ding. Ek het voorheen baie diëte beproef, maar nooit daarby gehou nie,” sê Josephine.

“Ek het navorsing oor suiker gedoen en was geskok oor die hoeveelheid suiker wat ek altyd ingeneem het. Dit was skynbaar in alles.

“Die besluit om dit uit my dieet te sny, was die beste besluit van my lewe. Dit was eers baie moeilik. Die eerste twee weke was bitter swaar. Maar suiwer vasbeslotenheid het my deurgehaal. Toe word dit ’n gewoonte. 

“Ek het nou die dag ’n artikel gelees dat suiker net so verslawend soos dwelms is. Dis gek, maar ek glo dit heeltemal. 

“Dit het my lewe volkome verander. Ek kruip nie meer weg nie. Ek het soveel meer selfvertroue. Ek het verlede jaar ’n hoofrol in ’n hoërskoolverhoogstuk gespeel. Dit is iets wat ek nooit voorheen sou doen nie, want ek was baie skaam en verleë oor my gewig.

“Ek kan by enige winkel van my keuse instap en klere koop waarvan ek hou. Die energie wat ek nou het, is ongelooflik. Soms word ek in die oggend wakker en glimlag net.”

Nadat sy Joe Wicks, ook bekend as die Body Coach, op Facebook ontdek het, het Josephine drie keer per week 20 minute per dag begin oefen. 

Sy eet nou kleiner porsies kos soos eiers vir ontbyt en hoenderslaai, quiche, patat en steak vir middag- en aandete. 

Foto: Magazine Features.

“Die moeilikste ding was my suikerverslawing. Dit was pynlik om dit deur daardie eerste paar weke te maak. Ek was beduiweld, ek was moeg, en ek was glad nie pret om in die omtrek te hê nie,” sê hy.

“Ek het dit vermy om saam met vriende uit te gaan. Ek het by die huis gebly en was lekker dikbek. Toe word dit elke dag makliker. Dit het ’n gewoonte geword.

“Die steun was ongelooflik. Ek is steeds verstom oor die aanmoediging wat ek gekry het. Mense van oral in die wêreld het hul eie ervaring met gewigsverlies met my gedeel. 

“ ’n Vrou het verlede week haar voor-en-na-foto’s gestuur. Sy het 30 kg verloor sedert sy my storie gelees en met my gepraat het. Dis ongelooflik.

“My raad is om dit net te doen. Begin. Hou op uitstel. Stel jou voor hoe jy oor maande van nou af sal lyk. Dis beslis nie ’n maklike reis nie, maar dit is dubbel en dwars die moeite werd. As ek dit kan doen, kan enigiemand dit doen.”