Marius (links) en Martin Dreyer is deesdae heelwat
Marius (links) en Martin Dreyer is deesdae heelwat skraler nadat hulle die afgelope drie jaar saam gesonder geleef het. Foto: Fani Mahuntsi

Die tweelingbroers was twee groot sakemanne van wie daar baie op die dorp gesien is. Maar die afgelope vyf jaar het inwoners van Bethlehem in die Oos-Vrystaat ál minder van die broers begin sien. Om die waarheid te sê, ’n volle 123 kg minder.

Dit is hoeveel gewig die tweeling, Martin en Marius Dreyer (41), gesamentlik afgeskud het. Hulle is albei ongetroud en mekaar se groot vriende – en so saam-saam het hulle die stryd teen die kilo’s aangepak, en dit oorwin. In die grootste stadium in sy lewe, daar in 2016 se kant, het Martin die skaal op ’n allemintige 192 kg laat bewe. Sy boet was ’n kort-kop agter hom en het teen 151 kg ingeweeg.

Deesdae weeg hulle onderskeidelik ’n “lenige” 122 kg en 98 kg. Martin het 70 kg afgeskud en Marius 53 kg. 

Terwyl baie mense tydens verlede jaar se streng inperking gewig aangesit het, het die twee broers in Maart ’n keerpunt bereik en ’n drastiese besluit geneem om hul ongesonde leefstyl van geen oefening en slegte eetgewoontes vaarwel toe te roep. 

Marius en Martin toe hulle op hul swaarste was. Fo
Marius en Martin toe hulle op hul swaarste was. Foto: Fani Mahuntsi

By hul huis wys die tweeling vir Huisgenoot klere wat hulle ongeveer drie jaar gelede gedra het.

Marius hou ’n no. 40-grootte broek voor hom.“Hierdie broek wil ek nooit weer aantrek nie,” sê hy. “Deesdae is dit net 34’s vir my.”

Martin trek ’n ou hemp aan. “Nou sit dit soos ’n dominee se toga aan my.” Dan vryf hy oor sy maag wat nog groterig oor sy belt hang. “Hier is nog so ’n bietjie werk; so 22 kg om te gaan.”

Marius wil nog 5 kg laat verdwyn. Maar dis sommer niks in vergelyking met die 246 blokke botter wat hulle al saam van hul lyf laat wegsmelt het nie.

In die koffiekroeg waar ons vroeër die middag die eerste keer ontmoet, vertel die twee eienaars van ‘n plaaslike drankwinkel ons hoe hulle hul lewe omgekeer het.

As hulle vyf jaar gelede die sowat 20 m van hul motor na die restaurant moes stap, sou hulle uitgeput en uitasem gewees het, vertel Marius. Nie nou meer nie, want die tweeling gaan stap deesdae elke Sondag ongeveer 8 km om fiks te bly en die vetjies in toom te hou. Verder eet hulle daagliks gebalanseerd.

Niks meer gemorskos en ’n oormaat van lekkergoed vir hulle nie.

Die tweelingbroers stap elke Sondag 8 km. Foto: Fa
Die tweelingbroers stap elke Sondag 8 km. Foto: Fani Mahuntsi

Snoep eetgewoontes is juis waar die probleem destyds ontstaan het. Toe hulle in die laat 1990’s op hoërskool in Bethlehem was, het hul ouers, Abie en Madeleine, ’n restaurant en kitskosonderneming op die dorp gehad. Elke middag ná skool is hulle dadelik na die restaurant toe waar hulle as kelners gewerk het, maar waar die verleidelike vetmaak-goedjies hulle ook ingewag het.

“Ons het so proe-proe gewerk,” onthou Marius daardie jare. “En natuurlik het ons ook onbehoorlike toegang tot die take-away menu gehad.”

“Ons het vet geword van vreet,” sê Martin.“ Net so,” antwoord Marius. “Vyf jaar terug het ek gesukkel om my skoene by te kom om my veters vas te maak.”

“Alles was moeite,” vertel Martin. “As ek ’n waentjie in die supermark moes stoot, dan hang ek oor hom net om oor die weg te kom.” Hulle het in daardie tyd wel verskillende dieetplanne beproef, maar niks was volhoubaar of suksesvol nie.

Mettertyd het hul toenemende gewig sy tol ook op ’n emosionele vlak begin eis.

Mense op die dorp het beledigende aanmerkings gemaak, “dan vang dit jou”, sê Martin. Marius, die meer uitgesproke een van die tweeling, het soms bitsig teruggekap: “Het ek jou geld gevra vir kos?”

Maar hy erken ook dat van die sarkastiese verwysings na hul gewig seergemaak het. Toe het hulle 6XL-hempde gedra. (Deesdae is dit darem net XXL vir Martin en XL vir hom, spog hy oor hul gewigsverlies.) Martin onthou dat hy nie ’n nek gehad het nie.

“Alles was net so een homp vleis van my kop tot by my lyf.”

Vyf jaar gelede het hul paaie met dié van Ema Fourie,  ’n omroeper by die plaaslike radiostasie Maluti FM, gekruis. Sy het hulle genooi om saam met haar deel te word van haar gewigsverliesprogram. Hulle het etes met gesondheidsdrankies vervang, en vetmaakduiwels soos gemorskos, stysel en suiker uitgesny, en die gereelde gaskoeldranke is met tot agt glase water per dag vervang.

En so het die vetjies kilogram per kilogram begin wegsmelt.

Ons het besluit so wil ons nie verder leef nie. Dit was die tweede en grootste ommekeer in ons lewe. En tot vandag toe bly ons daarby.

Maar alles was nie net maneskyn en rose nie, erken die twee. Toe hulle so drie jaar gelede hul oë uitvee, kom hulle agter hulle het geleidelik van die wa afgeval – pizza, hamburgers en sjokolade was weer deel van hul daaglikse roetine.

“Ja,” erken Marius. “Skielik het ons weer elke special by elke take-away plek op die dorp geken.” Toe die inperking in Maart verlede jaar aangekondig is, moes hulle die deure van hul drankwinkel tydelik sluit. 

“In daardie weke dat ons by die huis gesit het, het ons bestek geneem oor ons lewe,” vertel Marius. “Ons het besluit so wil ons nie verder leef nie. Dit was die tweede en grootste ommekeer in ons lewe. En tot vandag toe bly ons daarby.”

Deesdae stap hulle elke Sondag met gemak sowat 8 km. Soggens drink hulle ’n voedseldrankie en middagetes bestaan uit ’n gebalanseerde maaltyd met klein porsies en niks spesifieks wat hulle uitsny nie.

Sy probleem is dat hy ’n emosionele eter is, erken Martin openlik.

“Gewig is nie die enigste ding waarmee ek sukkel nie; dis depressie se skuld.” Dit is agt jaar gelede by hom gediagnoseer. “Jy kom op ’n punt dat jy glad nie meer omgee oor jou gewig nie. Jy gaan varksig en morsig om met kos. Om die waarheid te sê, jy gee eintlik glad nie meer vir enigiets om nie.”

Saam met hul ouers, Madeleine en Abie. Foto: Fani
Saam met hul ouers, Madeleine en Abie. Foto: Fani Mahuntsi

Twee jaar gelede is sy wêreld geruk toe ’n vriend sy eie lewe geneem het, ook weens depressie. Daarna het Martin ’n selfoonvideo in die sosiale media geplaas waarin hy ander mense gemotiveer het om te praat as die lewe vir hulle te erg raak.

’n Onbekende persoon het ’n dag of wat later kontak gemaak en vir Martin gesê dat hy met ’n geweer teen sy kop gestaan het toe hy die video gekyk het.

“Toe besef ek, ek het ’n lewe gered,” vertel Martin. “Al sukkel jy sommige dae om net die depressie te oorleef, moet jy weet daar is ander mense met wie dit erger gaan.” Sedertdien plaas hy gereeld motiveringsgeselsies op sy Facebookblad en het ook praatjies hieroor op die plaaslike radiostasie aangebied.

“Ek motiveer myself daarmee dat ek ’n verskil in ander se lewe kan maak, en dit motiveer my weer om by ’n gesonde leefstyl te bly. Maar my boetie help my ook baie met sy ondersteuning.”

Die twee was van kleins af baie geheg aan mekaar en het mekaar nog altyd ondersteun, vertel hul ma, Madeleine, by hul ouerhuis waar hulle albei bly. Sy sê in die tyd toe hulle die skaal op sy swaarste getrek het, was sy baie bekommerd oor hul gesondheid. “Maar dit het nie gehelp ’n mens praat nie, want hulle wou nie luister nie. Nou is ek dankbaar dat hulle self daardie besluit geneem het.” 

Hulle bêre sommige van hul ou oorgroot-klere in ’n kas as herdenkings, sê Marius met sy tong in die kies.

“En as ons die dag bietjie laat slap lê met die stap of lus raak vir ’n stukkie gemorskos, dan gaan kyk ons net daarna en dan is ons weer gemotiveer.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe