Vanessa en haar gesin woon in Pretoria-Wes. Agt maande gelede het sy haar ma, Gwendolyne, en pa, Robert, se oë laat rek toe sy in ’n talentkompetisie nie wou hoelahoep nie, maar met ’n handpop wou praat. 

“Ons was baie verbaas, want sy het die pop opgetel en begin praat en sy was goed. Sy het gesê 'hoekom sal ek nou wil hoelahoep as ek soos Jeff Dunham kan praat',” vertel Gwendolyne. 

’n Vrou wat haar eie poppekas het, het Vanessa raak gesien en Sparkle aan haar geskenk. Dis toe dat dié twee boesemvriende raak. 

Gwendolyne sê sy glo buikspraak kom natuurlik vir Vanessa omdat hulle gereeld na die wêreldbekende buikspreker Jeff Dunham kyk. “Sy het toe haarself geleer,” sê sy. 

Vanessa se handpop, Sparkle, is ’n giggelende meisietjie wat veral Vanessa se driejarige boetie laat skater. “Hy sê Sparkle is funtabulous,” sê Gwendolyne. 

“Vanessa het al vertonings vir minderbevoorregte kinders gehou en sy wil graag by ouetehuise ook optree, maar nou laat sy ons en haar maats lekker lag,” vertel Gwendolyne. 

Vanessa wil eendag ’n onderwyseres word waar sy Sparkle wil inspan om lesse interessanter te maak. 

“Sy sê met Sparkle aan haar sy sal die kinders skoolgaan geniet en gelukkig wees in haar klas.”

Vir nou oefen Vanessa byna elke dag, vertel haar ma. 

“Ons kan nie dramaklasse bekostig nie, maar Vanessa oefen op haar eie. Sy wil net mense laat lag – en sy kry dit reg.”