Margaret Seaman het twee jaar lank gebrei aan ’n m
Margaret Seaman het twee jaar lank gebrei aan ’n model van koningin Elizabeth se Sandringham-landgoed naby Norfolk op die Engelse platteland. Foto: Getty Images/Gallo Images

Dis een van koningin Elizabeth se geliefkoosde tuistes – die uitgestrekte herehuis waar die koninklike familie gewoonlik Kersfees deurbring. Sy ken Sandringham met sy sierlike gewels en spitsdakke waarskynlik soos die palm van haar hand.

Maar as jy haar sou vertel het dat sy nog in haar leeftyd ’n gebreide weergawe van haar geliefde landgoed sal sien, sou sy sweerlik gedink het dis sommer ’n wolhaarstorie.

Die ongelooflike skepping is meer as 5 m lank en word ­ in Sandringham se balsaal uitgestal. Foto: Gallo Images/ Getty Images.
Die ongelooflike skepping is meer as 5 m lank en word ­ in Sandringham se balsaal uitgestal. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Maar sien is glo, en die koningin was “baie beïndruk” met ’n wolreplika van Sandringham – kompleet met sy skoorstene, vensters, groot bome, tuine en mere – wat ’n vlytige 92-jarige met haar breipenne opgetower het.

Margaret Seaman van Caister-on-Sea naby Great Yarmouth in Engeland het twee jaar lank tot 15 uur per dag aan die replika van koningin Elizabeth (95) se landgoed naby Norfolk op die Engelse platteland gebrei.

Margaret het die gebou en tuine tot in die fynste besonderhede nageboots. Foto: Getty Images/Gallo Images
Margaret het die gebou en tuine tot in die fynste besonderhede nageboots. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die betowerende meesterstuk van meer as 5 m lank vang die ingewikkelde argitektuur van die geskiedkundige herehuis tot in die fynste besonderhede vas. Ook die St. Mary Magdalene-kerk, waar die koninklike familie elke Kersoggend die diens bywoon, maak deel daarvan uit.

Sandringham se mense is ook daar – die koningin en prins Philip wuif vanaf ’n balkon, en prins William, sy vrou, Catherine, en hul kinders, George, Charlotte en Louis, baljaar in die tuin. 

Gebruide weergawes.
Sy het ook mense bygevoeg, insluitend gebreide weergawes van die koningin en prins Philip wat van die balkon af wuif. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Die huis wat nou so kunstig in wol herskep is, is juis die plek waar wyle prins Philip ná sy aftrede die meeste van sy tyd deurgebring het tot die covid-19-pandemie die wêreld getref het. 

Hy was tydens die inperking saam met sy vrou in die Windsorkasteel, waar hy in April vanjaar oorlede is.

Prins Philip en die Koningin. Foto:Gallo Images/ Getty Images.

Net so beïndruk soos wat die koningin met Margaret se handewerk was, is Margaret met die monarg se reaksie daarop.“Dis absoluut wonderlik,” het die bobaasbreier ná hul ontmoeting gesê. “Dit het gelyk of sy dit baie geniet.”

Nes die koningin is Margaret ’n weduwee. Dit was juis ná haar man se dood dat sy by ’n breigroep aangesluit het.“

Dit het daarvandaan ál meer uitgebrei,” gesels sy oor die Sandringham-projek. 

Margaret het ook mense bygevoeg. Foto: Getty Image
Margaret het ook mense bygevoeg. Foto: Getty Images/Gallo Images

Sy het dit aangepak in die hoop dat dit ’n goeie doel sou dien.

“Ek het gedink as ek aan iets kan dink om te doen wat ons vir mense kan wys en geld vir liefdadigheid kan insamel, sal dit die moeite werd wees. En dis hoe dit alles begin het.”

Die eerste jaar het sy net aan die hoofwoning gebrei. “Die tweede jaar, terwyl ons ingeperk was, het ek die oorblywende geboue, die kerk, die stalle en die museum gebrei,” vertel Margaret, wat R14 000 vir al die wol moes opdok. 

Knittingale Hospitaal.
Sy het ook ’n “Knittingale”-hospitaal gebrei ter ere van die Nightingale-hospitale wat in die pandemie opgerig is.

Met die replika, wat tot Oktober in die balsaal van die werklike Sandringhamhuis uitgestal sal word, wil sy geld vir drie plaaslike hospitale insamel – die borskankereenheid by die Norfolk- en Norwich universiteitshospitaal, ’n kraameenheid by die Queen Elizabeth-hospitaal en ’n gemeenskapsprojek by die James Paget-universiteitshospitaal.

Besoekers wat die gebreide kunswerk kom bekyk het, het reeds sowat R1 miljoen geskenk.

Patiente in die Hospitaal. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Margaret het dit terdeë geniet om die Sandringham in die kleine te skep.“Ek woon by my dogter sedert ek my man verloor het en ek brei heeldag. My dogter doen al die ander dinge – sy sien om na my en doen al die kookwerk. Ek brei tussen 12 en 15 uur per dag,” sê sy.

“Al was ons ingeperk, was ek nooit verveeld nie en het ek nooit gewens ek kan uitgaan nie.”

“Ek was doodgelukkig om by die huis te bly en Sandringham te brei.”

BRONNE: MIRROR, PEOPLE, BBC, SKY NEWS
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe