Gerugte dat Derick Hougaard en Nádine ’n paartjie is, boei aanhangers al van vroeër in 2017. Derick het reeds in Junie in ’n onderhoud op Jacaranda FM se The Complimentary Breakfast verklaar: “Daar is beslis iets; ons moet net uitwerk wat dit is.”

Die een foto ná die ander gooi gereeld vet in die vuur en laat skindertonge opnuut klap. En aanhangers kan nie genoeg kry van die foto’s waarop hulle so stralend lyk nie.

Op die jongste foto wat die gewilde Musiek Roulette-aanbieder Sondag op Instagram gedeel het, skryf sy by ’n knus foto van haar en Derick doodeenvoudig: “Goeie tye. Goeie wyn. Goeie harte.”

Goeie tye. Goeie wyn. Goeie harte. #makingmemories #bolandseklong

A post shared by Nádine (@nadinenet) on

Aanhangers is in die wolke oor die intieme toneeltjie op die Bolandse wynplaas, Rheebokskloof.

le.rossouw_ skryf: “Ek wens vir julle net die mooiste dinge.” Louisswart verklaar onomwonde: “Hoog tyd, baie geluk!!”

By talle aanhangers is daar g’n twyfel hoe die wind waai nie . . .  Ene micealajanes sê: “Pragtig @nadinenet. Julle is pragtige paartjie.”

“Julle is pragtig. Sal bly wees as julle uitkom en sê julle is ’n paartjie. Julle verdien net geluk,” voeg deidrevanw haar stuiwer in die armbeurs.

Nou ja toe, daar het julle dit! Ons hou asem op.