Jay en Jan Roode het onlangs hul koffie­tafelboek,
Jay en Jan Roode het onlangs hul koffie­tafelboek, Aerial Art, uitgereik nadat hulle ’n dekade lank Afrika verken het. Foto: Jay Roode

Jy is keelvol vir die alledaagse trapmeul van huis, verkeer en werk. Jy wil vry wees, onbevange leef, avontuur najaag. Al ooit so gevoel? Jy is beslis nie die enigste nie.

Vra maar die Roodes van Melville, Johannesburg. Hulle het ’n dekade gelede die korporatiewe lewe vaarwel toegeroep en toe letterlik aan hul drome vlerke gegee.

In ’n ligte vliegtuig het Jan (48) en Jay (44) die wêreld as’t ware met ’n arendsoog gaan verken. En hul nuwe fotoboek, Aerial Art, bied ’n venster op die wildernis wat onder hulle verbygeskuif het.

Jay en Jan neem pragtige foto’s vanuit ’n Jabiru-v
Jay en Jan neem pragtige foto’s vanuit ’n Jabiru-vliegtuig. Foto: Jay Roode

Jan, wat voorheen as rekenmeester gewerk het, verduidelik die glansboek verteenwoordig 2 000 vliegure en ’n afstand van 370 000 km oor vier Afrikalande. Hy agter die stuur en Jay agter die kamera.

Die Roodes is omtrént in hul noppies met die resultaat. “Elke keer wanneer ons vlieg, is daar iets nuuts om te sien. Dis soos ’n reuseskattejag,” sê Jay, voorheen ’n korporatiewe bemarker.

Wat die foto’s sulke unieke kunswerke maak, is die egpaar se oog vir patrone, vorms en teksture in die natuur soos uit die lug gesien. Dit weerspieël ook hul passie vir bewaring.

“Dis vir ons soos ’n soort aktivisme. Ons kan die wonders van Suider-Afrika se wildernis vertoon, na habitat kyk as iets wat bewaar moet word . . . ons het foto’s van reuserivierstelsels wat so baie lewe in hulle het,” sê Jay.

Die samestelling van die boek het vier jaar geduur, maar vir hulle is dit die vrug van hul besonderse lewensreis van die ­afgelope 10 jaar. Dit was ’n reis vol euforiese oomblikke, maar ook vol bloed, sweet en trane.

Hul nuwe fotoboek, Aerial Art.
Hul nuwe fotoboek, Aerial Art.

Jan vee met sy hand deur sy hare terwyl hy terugdink aan die besluit om hul lewe so ingrypend te verander en die gemak van finansiële sekerheid prys te gee.

“Dit het baie onsekerheid gebring, maar ons het gevoel jy het net een lewe. Die bankbestuurder sal verskil, maar die sielkundige sal saamstem dat dit vrugte afgewerp het,” sê hy. “Wanneer sekere goed oor jou pad kom, weet jy net jy moet dit doen, al maak dit nie sin nie,” beaam Jay.

Om hul droom om Afrika uit die lug vas te lê te bewaarheid, het Jan vliegopleiding ondergaan terwyl Jay haar fotografiekuns geslyp het.

Die prag van Afrika se natuurwonders soos van bo g
Die prag van Afrika se natuurwonders soos van bo gesien. Foto: Jay Roode

In 2010 het hulle in hul viersitplekvliegtuigie opgestyg vir hul ­fotografiereis oor Suid-Afrika, Mosambiek, Botswana en Namibië: ’n sons­ondergang oor die Gariepdam; die smaragblou Mosambiekse kuslyn; afgesonderde nedersettings in Botswana, die Namib se rooi duinekronkels . . .

Die prag van Afrika se natuurwonders soos van bo g
Die prag van Afrika se natuurwonders soos van bo gesien. Foto: Jay Roode

Jan vertel toe hulle eers in die lug was, het hulle nie vir een oomblik getwyfel oor hul lewenskeuse nie.

“Ons was dadelik mal daaroor om die wêreld uit so ’n ander perspektief te sien. Die gewone verander in die buitengewone.”

Daar was hoogtepunte én laagtepunte.

’n Skoot van ’n informele nedersetting naby Soweto
’n Skoot van ’n informele nedersetting naby Soweto wys ’n klein stegie wat deur ’n lappieswerk van geroeste en stukkende ysterdakke loop. Foto: Jay Roode

Vir Jan was dit veral lekker om mense uit soveel verskillende kulture te ontmoet. “Omdat ons op afgeleë plekke land en nie op gewone vliegvelde nie, moet ons wag dat iemand ons ’n saamrygeleent­heid na die naaste dorpie gee.

“Dan gee ons hulle eers ’n kort vlug. Dis ongelooflik om die sien hoe die ervaring iemand raak wat andersins dalk nooit in hul lewe sou vlieg nie.”

En Jay?

“Elke land het ’n ander geur, ’n ander energie. Elke keer wanneer ons uitvlieg, is iets anders aan die gebeur. Ons het foto’s van Namibië in droogte, Namibië in vloede, ’n groen Namibiese wonderwêreld ná die reën,” vertel sy.

Flaminke by die moerasland langs die Mosambiekse k
Flaminke by die moerasland langs die Mosambiekse kuslyn. Foto: Jay Roode

’n Laagtepunt vir albei was om tydens hul dekade in die lug te sien hoe die natuur en ekostelsels nadelig geraak word deur menslike bedrywighede en die klimaatskrisis. Benoude oomblikke was daar ook. Bo die Mosambiekse kus het hul vliegtuigie se brandstof erg begin lek en Jan moes ’n noodlanding op die Medjumbe-eiland uitvoer.

“Toe ons land, het ons vlerk ’n bos getref; ons is toe van die aanloopbaan af en tref die enigste ander boom naby,” vertel Jan. “Die vlerke het afgebreek, die bande het gebars en ons was vol brandstof – die gevaarlikste ding in ’n vliegongeluk.”

Hulle was ’n ruk by die wrak gestrand tot plaaslike vissermanne hulle gewaar het.

“Ons het toe die vlerke afgesny en na die strand gedra, dit op ’n dau (tradisionele vissersboot) gelaai en 60 seemyl na Pemba op die vasteland geseil,” vertel hy.

“Dit was eers ’n skok, maar het toe ’n wonderlike avontuur geword.”

Riviere van sand vloei deur die landskappe van Noo
Riviere van sand vloei deur die landskappe van Noord-Damaraland, Namibië. Foto: Jay Roode

Die twee is al 27 jaar getroud en haas onafskeidbaar, maar die sluiting van Suid-Afrika se landsgrense verlede Maart weens die coronaviruskrisis het hulle onverhoeds betrap.

Jan was by hul Johannesburgse huis en Jay was met haar kamera in Namibië doenig. Sy kon nie betyds ’n vlug terug kry nie, en hulle was ses maande uitmekaar.

Hulle hou ’n foto op van ’n trop flaminke op die o
Hulle hou ’n foto op van ’n trop flaminke op die oop gitswart panne suid van Walvisbaai in Namibië. Foto: Jay Roode

“Ek was met vyf honde by die huis vasgekeer,” vertel Jan met ’n laggie. “Ek moes leer kook; ek het taamlik goed daarmee geraak. Ek het ook geleer stryk en ’n enorme hoeveelheid ander huisvaardighede baasgeraak.”

Die twee het nie kinders nie; wel die vyf honde.

Ná hul hereniging in Augustus was hulle voltyds doenig met die voorpublikasiewerk aan die boek. “Dit het lank geduur, en dit het deur ’n hele paar ver­skillende weergawes gegaan,” vertel Jay.

“Ons sou eers drie boeke doen, en toe sou ons net een baie groot boek doen. Eindelik het ons besluit om eerder net na die kuns van die natuur te kyk. Dis hoekom ons dit Aerial Art genoem het.”

Hul werk is al deur National Geogra­phic, BBC Wildlife en CNN in die kollig geplaas.

Die Roodes besit deesdae ook hul eie onderneming, Aerial Africa, wat pasgemaakte lugsafari’s aanbied. Maar bewaring bly hul langtermynpassie.


“Danksy ons unieke manier van uitkom by plekke, en hoe ons dit afneem, kan ons ’n beduidende bydrae lewer. Ons wil hand aan hand met ’n verskeidenheid bewaringsorganisasies in Afrika saamwerk deur veranderings in die natuur te dokumenteer,” vertel Jan.

Volgens Jay is daar veral uitdagings weens mynbou, ontbossing en boerderypraktyke. Maar bowenal is dit duidelik dié twee jeuk om weer Afrika se wind onder hul vlerke te voel, en nog ’n paar duisend vliegure aan te teken.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe