Vroedvroue het hul hande saamgeslaan toe klein Tayah Murphy die lewenslig aanskou met ’n dik bos donker hare. En dié wat aan haar ma, Corinna Anderson (33), voorspel het dit sou gou weer uitval, was toe verkeerd.

Dit het net ál woester gegroei.

G'n wonder sy is in haar sowat agt maande met die rocker Rod Stewart in sy jong dae vergelyk nie.

En met haar boskaas – wat reeds haar skouers raak wanneer dit nat en plat gekam is – ietwat netjieser in vlegsels, lyk sy vir haar ma “op ’n haar na Boo van Monsters Inc”.

In dié animasiefliek-treffer raak 'n meisietjie met ’n wollerige monster en sy makkers bevriend.

Tayah is twee weke later as verwag in Kent, Engeland, gebore. Sy het ’n gesonde 3,8 kg geweeg, maar die ding wat almal verstom het, was haar wilde haredos.

“Met haar koms was dit gitswart, maar dit begin nou ligter raak . . . bruin met rooierige strepe,” het Corinna aan Britse media vertel.

Baie mense het haar gesê haar baba se indrukwekkende hare sou spoedig begin uitval en hergroei, maar “sy het nie ’n krummel verloor nie. Dit hou net aan groei”.

Selfs vroedvroue wat al alles gesien het, “het ‘goeie hemel!' gesê toe hulle haar in my arms sit. Ek kon nie ophou na haar hare staar nie”.

Hulle het ook gewonder of sy baie sooibrand vooraf gehad het – glo ’n voorteken van 'n baba met baie hare. “Maar nou weet ons dis ook net 'n storie.”

Sy en haar verloofde, Lewis Murphy (29), het ook albei ’n bietjie bruin hare met hul geboorte gehad, “maar niks soos Tayah nie”.

Hulle het g'n planne om haar hare in die afsienbare toekoms te sny nie en het reeds vir haar ’n streng dog natuurlike haarsorgroetine. Hulle sjampoe dit byvoorbeeld net elke derde dag en gebruik nie ’n haardroër nie, net ’n handdoek, kam en borsel.

Aanvanklik wou sy omtrent nie dat Ma aan haar hare ráák nie, maar nou hou Tayah ook daarvan om kam in die hand vir haarself in die spieël te sit en kyk terwyl haar haredos gestileer word.

“Maar wanneer sy soggens opstaan, is dit weer net wild. Sy lyk dan asof jy haar agterstevoor deur ’n heining gesleep het!” het Corinna teenoor plaaslike media geskerts.

Bronne: comicsands.com, dailyexpress.co.uk, uk.news.yahoo.com, Facebook, Twitter