Die pragtige dogtertjie het in Augustus by haar dagsorg in Mbombela aan melk verstik en sy is inderhaas na die Mediclinic Nelspruit geneem toe sy blou in haar gesiggie geword het.

Dit is onbekend vir hoe lank sy nie asem gehaal het nie. Maar die klein dogtertjie veg dapper voort.

Oor die land heen bid duisende mense vir dié meisie en haar gesin. Die dokters het gesê sy gaan erg gestemd wees maar haar ouers het nog geensins moed verloor nie.

Verna Mulder en Mienke. Foto: Facebook

Deur die week is sy by ’n rehabilitasiesentrum in Benoni.

Haar ma, Verna Mulder (26) het Vrydag dié video met Huisgenoot gedeel. 

Sy sê Mienke het nog ’n voedingsbuis in haar magie waardeur sy kos kry. “Dié (met ’n koppie drink) is net om haar weer te begin gewoond maak aan melkies in haar mond. Dis 'n paar druppels,” sê sy. 

Haar pa, Ryno, het aan Huisgenoot gesê Mienke maak vordering.

“As jy kyk waar sy was en waar sy nou is. . . Sy’s al baie beter,” sê hy. 

Hy vertel hul huisinhoud word die naweek van Mbombela na Benoni getrek waar Mienke gedurende die week by ’n rehabilitasiesentrum behandel word.

“Ek wil vir my kinders en vrou daardie kant ’n huis gee. Ek sal nog hier (in Mbombela) bly werk en hulle dan oor naweke sien. Maar dan is hulle ten minste nader aan Mienke,” sê hy. 

Sterkte met die trek, Mulders!