Dié pragtige donkerkopdogtertjie se storie het die land aangegryp toe sy verlede jaar aan haar melk verstik by haar dagmoeder in Mbombela. Mienke, wat toe sewe maande oud was, was "dood" toe hulle by die hospitaal aankom, maar 15 minute later kon die dokters ’n pols kry, het haar ma, Verna, destyds vertel. 

Verna het Maandag ’n videogreep gedeel op haar Facebookblad, Please Pray for Mienke, waarin Mienke haar beentjies een vir een optel en treetjies probeer gee.

"Ons het dit eers gister (Maandag) agtergekom. Sy kan nie haar gewig op haar beentjies sit nie, maar ek het so twee keer met haar geoefen en toe begin sy self haar knieë buig en treetjies gee," sê Verna aan Huisgenoot. 

"’n Mens kan sien sy het nog nie nekbeheer nie, maar die feit dat sy so vinnig die konneksie kon maak om haar beentjies so op te tel, het my in trane van blydskap laat uitbars. Ons wil nou vir haar ’n staanraam probeer kry sodat sy kan oefen."

Verna sê sy en Ryno, Mienke se pa, is net dankbaar "daar is iets om mee te werk". 

Mienke was onlangs in die hospitaal omdat sy aan haar spoeg verstik. "Hulle het ’n sluktoets gedoen en sy het geen slukrefleks nie. Die spoeg loop soms in haar lugweë in. Ons kan dus glad nie vir haar voeding deur haar mond gee nie, maar ons hou aan met terapie en glo, bid en vertrou dit sal verbeter." 

Verna sê die Mulder-gesin vier die klein verbeterings wat hulle in Mienke raaksien.

Die Mulder-gesin. Pa Ryno met Zamoné in sy arms en ousus Leané voor met ma Verna en Mienke.

"Sy is ons liefling en ons is trots op haar."