“Moet nooit ophou glo in wonderwerke nie!” Só het Verna Mulder (26) Sondag op Facebook geskryf nadat sy en haar man, Ryno (30), hul wonderbaba Mienke die naweek vir die eerste keer in drie maande kon huis toe bring.

Daar was groot opwinding toe Verna Vrydag eers Mienke se sussies, Leané (3) en Zamoné (19 maande), by hulle dagsorgsentrum in Benoni opgelaai het voordat hulle met haar huis toe is.

Oor die land heen bid duisende mense vir dié pragkind sedert sy op 24 Augustus wonderbaarlik oorleef het nadat sy by haar dagsorgsentum in Mbombela, aan melk verstik en in die Netcare Waterfall City-hospitaal in Midrand in Johannesburg, met breinskade gediagnoseer is.

'n Skermgreep van Verna Mulder se Facebook-inskrywing.

In ’n video wat haar ma op die ondersteuningsgroep Please Pray for Mienke geplaas het, lyk dit asof klein Mienke aandagtig na al die kinderstemmetjies om haar luister terwyl hulle versigtig om haar saamdrom om haar te groet.

Hoewel daar niks met haar oë skort nie, kan haar brein weens die skade nog nie die beelde wat sy sien prosesseer nie.

Verna deel wel gereeld nuus oor Mienke se vordering in die Netcare rehabilitasie-hospitaal waar sy nou behandel word.

Daar kan ook in roerende foto’s gesien word hoe Mienke deur haar ma en sussies gebad word.

Mienke word deur haar ma en sussies gebad. Foto: Facebook

“Moet nooit ophou glo nie. Wonderwerke gebeur elke dag!,” het Verna Sondag by die foto's geskryf.

“Die dag waarvoor ons so lank gebid het, het vinniger gekom as wat ons verwag het! Ons Mienke-pop kon na drie maande van in die hospitaal-wees vir die naweek huistoe kom! Wow. Dit was die mees awsomeste naweek ooit! Dankie Heer vir hierdie voorreg, maar sjoe, my hart breek vanaand. Om jou daar te moes los vanaand weer by rehab was niks lekker nie... ’n Duisend trane. Ons lief jou Mienke Pop”, was haar ma se roerende woorde.

Verna is sedert die voorval elke dag langs haar kind se bed terwyl Ryno, ’n streekbesturder by ’n glasinstalleringsonderneming, moes terugkeer werk toe.