Dit volg nadat 'n jurie verlede maand beslis het Weinstein (66) moet aangekla word van die seksuele aanranding van verskeie vroue, waaronder Paz de La Huerta (33) en Lucia Evans (36).

Arrestasie

Weinstein is Vrydag in hegtenis geneem en word aangekla van verkragting, seksuele misdrywe en seksuele wangedrag vir voorvalle waarby twee vroue betrokke was.

Hy is geboeid in 'n motor geboender na die formaliteite afgehandel is.

Harvey Weinstein het die gebou geboeid verlaat. Foto: YouTube-skermgreep (WashingtonPost)

Vroeër vandag

In 'n opspraakwekkende wending het die beweerde sekspes homself Vrydag in Manhattan by die staatsaanklaer se kantore aan die polisie oorhandig om tereg te staan op aanklag van verkragting.

Dit volg nadat 'n jurie verlede maand beslis het Weinstein (66) moet aangekla word van die seksuele aanranding van verskeie vroue, waaronder Paz de La Huerta (33) en Lucia Evans (36).

Harvey Weinstein het homself Vrydag aan die owerhede oorhandig. Foto: YouTube-skermgreep (WashingtonPost)

Hy word deur klagtes van verkragting en seksuele misdrywe in die gesig gestaar. Daar word gegis dat hy borgtog van $2 miljoen (amper R25 miljoen) toegestaan sal word.

Lucia sê die klagte wat sy teen hom gelê het, hou verband met 'n voorval in 2004 waartydens hy haar na bewering gedwing het om orale seks met hom in sy kantoor te hê. Sy het glo herhaaldelik geweier, maar hy het haar na bewering fisiek oorweldig en gedwing.

Die polisie van New York het in Oktober verlede jaar aangedui hulle gaan ondersoek of Weinstein vir Paz (33) in 2010 twee keer verkrag het.

Die eerste verkragting het glo by sy huis gebeur, en die filmmagnaat het blykbaar daarna gesê hy gaan haar weer kontak. "Ek het net geskok in die bed bly lê," het sy daaroor gesê. 'n Maand later het hy na bewering ongenooid opgedaag by die woonstelblok waar sy bly.

Sy was bang. "Ek wou dit nie toelaat nie . . . hy was soos 'n vark. Hy het my verkrag," het sy luidens berigte aan die polisie vertel.

Meer as 80 vroue het Weinstein van seksuele teistering, verkragting, aanranding en ander vorme van wangedrag beskuldig.

Die aktrise Gwyneth Paltrow (45) het glo ook byna onder hom deurgeloop. In 'n onderhoud met Howard Stern het sy vertel hoe vreemd dit was dat hy sy flikkers vir haar gegooi het. Sy was toe 22 jaar oud en het Weinstein se gedrag as 'n absolute skok ervaar.

Hy wou haar oorreed om vir 'n "massering" te gaan, iets wat verskeie van sy slagoffers as sy modus operandi beskryf.

Haar kêrel in daardie stadium was Brad Pitt, en toe sy hom van die voorval vertel, was hy woedend. Hy het Weinstein iewers raakgeloop en glo gedreig om hom "dood te maak as hy ooit weer" vir Gwyneth ongemaklik sou laat voel.

Bronne: dailymail.co.uktheguardian.com, cnn.com