'n Stukkie polisielint is die enigste teken dat hier 'n wrede misdaad gepleeg is. Foto: Gerhard de Bruin
Binne die huis was daar nog blikkies kos in die spens van die kombuis en 'n skildery van die Groot Vyf-diere sigbaar tussen die roet en brandskade. Foto: Gerhard de Bruin
'n Tafeltjie in die tuin met verbrande speelgoed van die kinders. Foto: Gerhard de Bruin
Waar die brand vermoedelik begin het. Foto: Gerhard de Bruin
Binne die kamer waar die brand op 19 Desember vermoedelik begin het. Foto: Gerhard de Bruin
Die voorste kamer van die huis waar die brand vermoedelik begin het. Foto: Gerhard de Bruin
Die afgeleë huis van die Julyan-familie in Mtwalume wat op 19 Desember verlede jaar uitgebrand het met vier familielede wat vasgebind, verwurg en aan die brand gesteek is. Foto: Gerhard de Bruin
Die afgeleë huis van die Julyan-familie in Mtwalume wat op 19 Desember verlede jaar uitgebrand het met vier familielede wat vasgebind, verwurg en aan die brand gesteek is. Foto: Gerhard de Bruin

Jou vel kriewel inderdaad as jy deur die huis loop waar die vier familielede vasgebind, verwurg en aan die brand gesteek is: Ethen McKenna (9), Kayla McKenna (16), Jeffrey Julyan (34) en die oupa van die twee kinders, Peter McKenna.

“Ons het die ontploffing tot hier gehoor,” vertel mense by ’n kitskosplekkie daarnaby. Van hulle het in die rigting van die geluid sowat ’n kilometer ver gehardloop met die grondpad langs tot by die afgeleë huis wat omring is deur ’n tropiese planteryk.

Dit het al 19 Desember 2017 gebeur, maar wat presies daar afgespeel het, is nog in geheimsinnigheid gehul. “Speurders is in ’n baie sensitiewe stadium van hul ondersoek,” sê kol. Thembeka Mbhele, polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, aan huisgenoot.com.

"Geen inhegtenisnemings is al gemaak nie en die motief kan nie in hierdie stadium onthul word nie,” voeg sy by en belowe sy sal laat weet as daar vordering is.

Mense op die dorpie vertel Jeffrey se pa was besig om uit te trek uit die huis toe hulle almal oorval is tydens 'n rooftog. Twee ander mans het die brand oorleef, en Jeffrey se broer, Wesley, het ook net rookinaseming opgedoen.

In die oorgroeide woud net ’n paar meter van die verbrande huis af, is die lyk van Kenneth Gary van Aardt op 27 April 2003 in ’n vlak graf gevind.

Wesley, toe 19, was ’n verdagte in die moord, maar hy het onskuldig gepleit toe hy daarvan beskuldig is dat hy Kenneth met ’n skoenveter verwurg het.

Hy is 13 jaar tronkstraf opgelê, maar is intussen op parool vrygelaat. Die polisie wil in hierdie stadium nie sê of hulle die moorde met mekaar verbind nie.

Kayla wou ’n joernalis word en het by die South Coast Herald op Port Shepstone werkondervinding opgedoen. Sy was baie geliefd deur die personeel daar.

Sy sou hierdie jaar in gr. 11 aan die Hoërskool Port Shepstone wees. Haar boetie Ethen sou gr. 3 by Port Shepstone Junior Primary School voltooi.

Hul ma, Leanne Julyan het met ons besoek die naweek iewers langs die Ooskus saam met vriende gekampeer “om weg te kom van alles”.

Ekstra bronne: netwerk24.com, news24.com, iol.co.za