Die musiek deur Elton John en Tim Rice het destyds aan The Lion King, wat in 1994 uitgereik is, twee Oscars besorg, en die fliek het ook twee Golden Globes gewen beste musiekspel en klankbaan.

Die fliek het destyds wêreldwyd $968 miljoen (ampertjies $1 miljard) by die loket verdien en in derduisende mense se harte gekruip.

Die akteur Germandt Geldenhuys, wat die rol van Louis in Binnelanders vertolk en in die Afrikaanse fliek Kanarie te sien is, sê dié Disney-fliek het hom kleintyd al in vervoering gehad.

“Dit was die eerste fliek wat ek in ’n fliekteater gaan kyk het,” sê hy aan Huisgenoot. Hy onthou hy het die fliek destyds saam met sy ouers in Bloemfontein se Mimosa Mall gaan kyk.

“En ek was nog altyd ’n groot liefhebber van die natuur en wild. My pa het daarna vir my die video gekoop, en ek dink dit was al wat ek vir die volgende vyf jaar gekyk het,” vertel hy en lag.

Germandt sê hy is gek oor die stuk waar Simba die trefferlied I Just Can't Wait to Be King sing. “En ook die deel waar die hiënas so voor Scar marsjeer.”

Jare later, toe Germandt as matriekleering die kans gehad het om die verhoogproduksie van The Lion King te gaan kyk, het hy daarna gewéét hy wil eendag in die vermaakwêreld werk.

“Dít het my laat besef ek wil ’n akteur word,” sê hy. “Dit is eintlik vir my so ’n sentimentele ding. Dit het vir my ’n ander wêreld oopgemaak en my lewe verander,” vertel die akteur, wat toe wél na skool drama en musikale teater gaan studeer het.

So toe Germandt Donderdagaand die lokprent van die nuwe, herwerkte fotorealistiese weergawe van die fliek sien, het hy skoon tranerig geraak, vertel Germandt en lag weer.

“Ek het hoendervel gekry,” sê hy.

View this post on Instagram

Take your place. #TheLionKing

A post shared by Walt Disney Studios (@disneystudios) on

Die fliek word in Julie volgende jaar uitgereik.

Die eerste lokprent vir dié nuwe weergawe is Donderdag uitgereik en is reeds byna 7 miljoen keer gekyk. 

Germandt sê hy hoop die nuwe weergawe sal getrou bly aan die oorspronklike fliek.

“Dit lyk so ver of hulle skoot vir skoot die fliek gaan namaak. Ek kan nie nou al sê dit gaan amazing wees nie, maar ek wil verskriklik graag hê die fliek moet ongelooflik goed wees. ’n Mens wil nie hê die herwerkte weergawe moet Lion King vir jou bederf nie,” sê hy.

“Ek gaan dit met ’n valkoog dophou!” belowe hy.

Van die stemme in die nuwe weergawe van die fliek, sal jy herken as die van Beyoncé, Seth Rogan en Suid-Afrika se eie John Kani, wat die stem van Rafiki sal wees.

Skryf dit solank in jou nuwe dagboek; sit ’n herinnering op jou selfoon. The Lion King sal vanaf 19 Julie 2019 in fliekteaters te sien wees.