Chris Loubser, 'n plaasbestuurder op die plaas van 'n bekende sakeman in Franschhoek, het 'n video met sy selfoon in sy motor tussen die wingerde opgeneem. 

Hy het die vorige aand sleg geslaap nadat 'n boer, Joubert Conradie, Dinsdagoggend op sy plaas buite Stellenbosch doodgeskiet is. 

“Dit raak aan 'n ou. Dit is iemand wat jy geken het, wat saam jou deelgeneem het aan blokkompetisies. 'n Ou voel so magteloos. 'n Ou wil graag iets doen vir die land se boere,” se Chris. 

 “As ek kon toor sou ek die hele stad Kaapstad omring deur trekkers, sodat niemand kan in of uit nie. Want dit lyk asof jy chaos moet veroorsaak voordat jy op grondvlak gehoor kan word.”

'n Emosionele Chris vra vir almal om Maandag swart klere aan te trek om respek te toon aan die boere wat hul lewens al verloor het.

"Ek het darem 'n ou swart T-hemp in die kas. Sodat ons net bietjie respek kan toon aan die boere wat hul lewens (in 2017) verloor het."

Hy vertel ook dat hy weer besef het hoe bevoorreg hy is om weer Woensdagoggend vir sy vrou tee in die bed te kon bring, iets wat hy elke dag doen en wat hy erken 'n "man dalk nie elke dag lus is om te doen nie."