Emmie Booysens (88) van Bela-Bela is haar hele lewe lank ’n groot rugbyondersteuner.

Haar kleinseun, Werner van der Merwe (37) sê sy ouma maak altyd so wanneer die Springbokke ’n wedstryd wen. 

“Sy begin sommer al huil wanneer hulle die volkslied sing,” verklap hy oor sy passievolle ouma se gedrag wanneer die Bokke op die veld is.

Emmie woon in ’n ouetehuis in Bela-Bela en haar kleinkinders gaan haal haar gereeld om saam met hulle rugby tuis te kyk. 

“Hulle weet ek is so lief vir rugby, maar lyk my ek is nou ’n skandemaker! Ek kan nie help nie, my kind. Ek lééf my so in,” sê sy. 

Emmie sê sy het nog nooit ’n Springbok-wedstryd in lewende lywe gesien nie en sy dink maar dis dalk goed so.

“Netnou maak ek te veel amok. Niemand in my familie wil langs my sit nie want ek gaan so tekere.” 

Lallie Labuschagne, haar kleindogter by wie sy Sondag die rugby gekyk het, sê haar ouma mis nie ’n Springbok-wedstryd nie. 

Werner sê sy ouma, wie ’n “slegte heup” het, sal sommer tydens die uitsending op spelers skree en met haar kierie na die tv-skerm beduie as hulle volgens haar nie na wense speel nie. 

“Ons kan lekker vir haar lag,” sê hy. 

Emmie sê sy gee glad nie om as haar gesin vir haar eskepades lag nie. 

“Ons lag heeltemal te min. Ek kan nie help nie. Ek is net so trots as die Bokke speel. Sondagoggend toe ek bid vir die span dink ek ‘maar die ander span bid seker ook’. Nouja, ons het seker harder gebid,” skerts sy. 

Haar gunstelingspeler is Tendai ‘Beast’ Mtawarira. “Ek hou van hulle almal maar hy het maar net ’n sagte plekkie in my hart, jong.”

Tannie Emmie gaan beslis die Springbok-wedstryd die naweek vir niks op aarde misloop nie. Sy sê sy sien uit na die finaal teen Engeland Saterdag maar kan nie “belowe dat ek myself gaan gedra nie”.

En gaan sy dalk haar Springboktrui aanhê?

“Nee wat my kind, ek het nie ’n trui nodig om hard te skree nie.”

Tannie Emmie is ’n weduwee met twee dogters, vyf klein kinders en twee agterkleinkinders.