Megan Crome sukkel met velprobleme.
Megan Crome sukkel met velprobleme. Foto: Magazine Features.

Megan Crome van Londen beweer dis die lot wat haar getref het nadat sy opgehou het om steroïedroom te gebruik. Ekseem is by haar gediagnoseer vandat sy ses jaar oud was toe sy jeukende kolle agter haar knieë en aan die binnekant van haar elmboë ontwikkel het. 

Die 25-jarige bemarkingsassistent vertel dokters het haar deur die jare aangeraai om haar veltoestand met nog steroïedrome te bestry en sy beweer dit het nie veel gehelp nie.

In Februarie vanjaar het Megan voortdurend velinfeksies aan haar gesig gekry en sy het besluit om self haar simptome op die internet na te vors.

Op Facebook het sy op die toestand topikale steroïedonttrekking (TSO) afgekom en dit by haar gediagnoseer.

Dit veroorsaak kwaai rooiheid en velafskilfering en Megan beweer sy het daaraan gely.  

Megan Crome
Foto: Magazine Features.

Toe sy ophou om die steroïedrome te gebruik, sê Megan, het haar vel binne dae begin brand en ’n warm, dik laag akkedisagtige skubbe het aan haar gesig gevorm.

Boonop kon Megan nie meer slaap of stort nie. Om te keer dat dit voel of suur oor haar vel gegooi word terwyl sy stort, het sy haarself eerder ’n sponsbad gegee. 

Die traumatiese ervaring het haar terneergedruk en moedeloos gelaat en haar lewensgehalte aansienlik verswak, vertel Megan. Sy moes weer by haar ma, Claire (54), intrek, tyd by die werk afneem en het nie meer haar vriende gesien nie.  

“Wanneer ek kwaai simptome ervaar het, het ek vier of vyf keer per dag gehuil uit moedeloosheid oor my toestand. Ek wou net leef en gemaklik wees. 

“Al die simptome het my absoluut aaklig laat voel, want ek het vir drie maande elke oomblik van die dag gely. Ek het altyd iewers pyn gehad en as gevolg daarvan kon ek nie my eie etes berei, uitgaan of eenvoudige take verrig nie. 

“Ek het myself maande lank nie in die spieël herken nie en my hele gesig was net beskadigde vel wat ontsteek was en afgeval het. Dit was absolute hel en as ek nou daaraan terug dink, was dit baie ontstellend en taamlik traumaties.”

’n Ligpunt was dat haar vriende en familie haar deur die uitmergelende ervaring ondersteun het.

Megan Crome
Foto: Magazine Features.


Megan is ook ongelooflik dankbaar vir die hulp van steungroepe op Facebook wat haar gehelp het om in moeilike omstandighede staande te bly.

“Ek is dankbaar ek het die steungroepe op Facebook gekry. Hulle is absoluut ’n reddingsboei, want die mense sê vir my ek moet aanhou en nie opgee nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe