Mary Bourne Butts (26) van Alabama in Amerika, wat op 29 Desember met James Butt getrou het, se eerste dans by die onthaal was saam met haar pa, Jim Roberts, wat in ’n rolstoel is, berig USA Today.

Mary en Jim het die baan op Lee Ann Womack se liedjie I Hope You Dance geopen.

“Ons het altyd beplan om die liedjie te gebruik,” vertel sy. “Ons was nie eens seker hoe my pa op daardie dag sou voel nie. Ons het net geweet ons sou dit op ’n manier doen.”

’n Roerende video van die dans, vasgelê en vroeër vandeesmaand op Facebook gedeel deur Blue Room Photography, is reeds meer as 500 000 keer gekyk.

“Almal was in trane,” het Mary aan Good Morning America vertel. “Ek het geen benul gehad die reaksie op die dag sou so groot wees nie. Almal het ons situasie geken en geweet my pa is in ’n rolstoel. Om my vriende, hul mans en al hierdie sterk mans in my lewe met snesies te sien, was ongelooflik.”

Glioblastoom is in 2017 by Jim gediagnoseer. Dis ’n tipe gewas wat in die brein en rugmurg voorkom, aldus die Mayo Clinic.

Die pa van vyf het ’n operasie ondergaan om die gewas te verwyder en 70 dae lank by die Alabama-universiteitshospitaal herstel. Hy het ook bestraling en chemoterapie ondergaan, maar sy kanker het teruggekeer, berig ABC News.

Die prognose was dat hy twee maande oor het en hy word nou in ’n tehuis versorg. “My pa was die beste pa waarvoor ek kon vra,” sê Mary. “Hy was ’n voorsiener en die geestelike leier vir ons gesin.

“Hy het ons nooit bederf nie, maar ons was altyd versorg en hy is werklik ons almal se grootste ondersteuner. En buite my gesin het my pa ’n ongelooflik taak verrig om ons gemeenskap te beïnvloed.”

Mary sê sy is oorweldig met die reaksie wat die video aanlyn kry.

“Meer mense bid vir my pa danksy dit,” sê sy. “Hierdie vyf minute van roem is groot pret, maar ek hoop mense is geïnspireer met wat hulle sien – of dit nou iets in die lewe is wat hulle misloop of iets wat hulle het, maar as vanselfsprekend aanvaar.”

Bronne: USA Today, Good Morning America, Abc News