Die foto’s van Parris en Emily Khachi (née Manashi) se pragtroue het ’n effens spookagtige element, want die groot Katolieke kerk is byna dolleeg. Op die kerkbanke pryk A4-foto’s van die gaste wat weens die coronavirus-inperking nie die geleentheid kon bywoon nie.

Die afwesige gaste is aangemoedig om ’n foto van hulself te stuur en dit is oor 26 rye sitplekke versprei. Hul glimlaggende maar stil gesigte is duidelik sigbaar terwyl die pa van die bruid met sy dogter in die kerkpaadjie afstap.

bruid by kerk
Foto: mediadrumworld.com/VicensForns/Magazinefeatures.co.za

Die troufoto’s is deur Vicens Forns (54) van Fairfield in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië geneem. Die troufotograaf met sy Canon-kamera was een van 11 mense op die plegtigheid in die St. Ignatius-kerk in San Francisco.

In ooreenstemming met die Amerikaanse riglyne oor sosiale afstand was daar buiten Vicens, die priester en die gelukkige paartjie net sewe gaste op die troue.

Die kerk was gaaf genoeg om die troue regstreeks te stroom sodat familie en vriende nie die groot dag heeltemal misgeloop het nie.

“Die skiet van die troue was onwerklik en het baie emosies ontlok oor die vreemde tye waarin ons leef,” sê die fotograaf, wat oorspronklik van Barcelona, Spanje, kom.

“Maar ek het hoofsaaklik besef dit is dalk die begin van ’n nuwe normaal (vir troues) van nou af.

bruid by kerk
Foto: mediadrumworld.com/VicensForns/Magazinefeatures.co.za

“Ek is bly hulle het dit gedoen en die logistieke probleme op hul eie spesiale manier oorkom en liefde het geseëvier.”

Terwyl baie verloofde pare hul troue uitstel of selfs afstel weens die coronaviruspandemie, het die Kaliforniërs deurgedruk en gesorg hulle voldoen aan sosiale afstandhouding.

Die bruidegom, Parris Khachi, wat ’n tuisbly-wittebroodsvakansie tydens die inperking beplan, praat oor sy groot dag:

“Toe die inperking eers intree, het ons lank gedink wat ons volgende moes doen. Nie een van ons wou onbepaald uitstel nie, want dit is moeilik om uit te pluis wanneer goed weer sal reg voel. Intussen wou ons nie ons geliefdes in gevaar stel nie,” sê Parris aan ABC7News.

“Toe ons by die kerk aankom, het ons die foto’s op die banke gesien. Die kerk stroom gereeld hul dienste en ten einde die priester en gehoor in verbinding te hou, het hulle foto’s van die kerklede op die banke gehad en ons het die gehoor waardeer. Dit was werklik iets moois wat die kerk gedoen het.

bruid by kerk
Foto: mediadrumworld.com/VicensForns/Magazinefeatures.co.za

“Ons is dol oor die foto’s wat die fotograaf geneem het. Hy straal die ontmoeting van die skone kunste en troufotografie perfek uit. Ons dink mense vind aanklank daarby, want ons het steeds ’n manier gekry om selfs in die huidige klimaat ’n gelukkige geleentheid te vier. Op ’n manier het dit ’n troue na die kernbeginsels laat terugkeer, tydens siekte en tydens gesondheid en tydens ’n pandemie.

“Wat belangrik is, is dat jy iemand gekry het om jou lewe mee deur te bring. Dit was ’n moeilike besluit om te neem, maar ons wou net met ons lewe saam begin.”

Vicens, wat hul troufoto’s met die eenvoudige byskrif “Troue in San Fancisco” geplaas het, het sedertdien amper 9 000 likes op Instagram gekry.

bruid by kerk
Foto: mediadrumworld.com/VicensForns/Magazinefeatures.co.za

Hy het ver van die aksie af gestaan volgens fase een van die Amerikaanse Withuis se heropeningsplan, wat onder meer lui:

“Vermy sosialisering in groepe van meer as 10 mense in omstandighede wat nie geredelik gepaste fisieke afstandhouding toelaat nie (byvoorbeeld onthale en handelskoue).”