Die pasgetroude dr. Israa Seblani (29) was in spierwit drapeer en het vir haar trouvideo geglimlag toe ’n reuse-ontploffing net 1 km weg in die Libanese hoofstad haar amper van haar voete geslaan het.

Die dramatiese beeldmateriaal is vasgevang tydens die video-opname toe die ontploffing die hoofstad geruk en minstens 135 mense se dood veroorsaak en meer as 5 000 beseer het, berig The Guardian.

Israa, wat as ’n dokter in Amerika werk, het drie weke gelede in die stad aangekom vir haar troue.

Luidens berigte is die ontploffing veroorsaak toe ’n sweiser 2 750 ton ammoniumnitraat laat vlam vat het wat jare lank in die hawegebied van die stad gebêre was.

Sy het ná die ontploffing gehelp om die nabye beseerdes te ondersoek.

Israa en haar man, Ahmad Subeih (34), ’n sakeman in Beiroet, sukkel nog om te begryp wat gebeur het, berig die New York Post.

“Ek berei al twee weke lank voor vir my groot dag en was so gelukkig nes alle ander vroue. Ek het op trou gestaan. My ouers sou gelukkig gewees het om my in ’n wit rok te sien, ek gaan soos ’n prinses lyk,” het sy aan Reuters gesê.

“Wat tydens die ontploffing hier gebeur het – daar is geen woorde om dit te verduidelik nie . . . ek was geskok, ek het gewonder wat het gebeur. Gaan ek sterf?”

Stukke gebreekte glas van vensters wat uitgeblaas is, het oor die grond rondom die hotel gestrooi gelê.

Haar man het vertel wat hy van die nadraai van die ontploffing onthou.

“Ons het begin rondstap en dit was baie hartseer. Die verwoesting en die klank van die ontploffing is onbeskryflik,” het Ahmad gesê.

“Ons ly nog aan skok . . . ek het nog nooit enigiets soortgelyk aan die klank van daardie ontploffing gehoor nie.”

“Ek voel hartseer oor wat met die ander mense gebeur het, oor wat met Libanon gebeur het,” het Israa bygevoeg.

“Toe ek wakker word en die skade sien, het ek gesê dankie God dat ons lewe.”

Die paartjie het ná die ontploffing tot verhaal probeer kom en met hul vieringe voortgegaan.

“My man het gesê ons moet voortgaan. Ons kan nie stop nie. Ek het gedink, hoekom nie, kom ons gaan voort. Ek was nie regtig in die oomblik nie. Ek het gestap met ’n glimlag op my gesig, maar dis al, niks meer nie. Toe het ons gaan eet.”

Ahmad wag tans op ’n Amerikaanse visum sodat hy by sy vrou in Amerika kan aansluit.

Heldin

’n Trekarbeider is in ’n video vasgevang waar sy ’n kleuter van die mag van die ontploffing red, berig die Filipino Times.

Beeldmateriaal wat in sosiale media gedeel is, wys hoe die vrou haar werkgewers se huis skoonmaak toe die ontploffing gebeur.

Die skoonmaker het blitsvinnig die dogtertjie wat in die agtergrond gespeel het, gegryp en na veiligheid gehardloop.

Die vrou word geloof as ’n heldin en talle het haar blitsvinnige optrede geprys.

Kyk hier na die video

Bronne: theguardian.com, nypost.com, reuters.com, filipinotimes.net

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe