Maar moenie glo nie, sy geveerde vriend wat hy van donsdae af grootgemaak het, is duidelik te verknog aan hom.

Die langste wat Karel al voorheen weggebly het wanneer sy baas hom sy vlerke laat rek het, was omtrent ’n dag. Toe daar onlangs teen dag vier nog geen teken van hom was by die Vermeulens op Malmesbury nie, het Tiaan begin wonder of hy elders, saam met ’n maat, gaan nesskop het. Of erger: dat hy hom dalk in ’n roofvoël vasgeloop het.

Maar tot sy groot verligting, vertel die sakeman en pa van twee dogters, kry hy toe die oproep van ’n tannie op die dorp: Hy moet kom, daar’s ’n pratende kraai op haar stoep.

“Hy’s toe al omtrent ’n dag daar by haar, sy’t hom al begin kos gee. Toe ek hom gaan haal, vlieg hy dadelik na my toe en spring op my skouer.

tiaan vermeulen, karel kraai
Foto: Verskaf

“Tuis is hy gewoonlik soggens in ’n groot 2 m x 2 m hok wat ek vir hom gebou het.”

Dis waar hy kos gegee word, maar dis ook om hom darem ’n deel van die dag uit die kwaad te hou. Want Karel kan nogal ’n bemoeisieke kraai wees. “Hy kan baie stout wees. Ons kom soms nie tot rus as hy in die erf besig raak nie.

“Hy sal byvoorbeeld die vensters se putty uitpik. As hy 'n krakie in die putty sien, wil hy dit met alle mag groter maak. Dis asof hy die ruite wil uithaal.”

Of hy sal blomme en ander plante uithaal so vinnig as wat Tiaan en se vrou, Jolandi, dit plant. Of teelepels en ander blink goed gaan wegsteek.

“So tweeuur in die middag laat ek hom uit sy hok kom dat hy kan vlieg en rondloop. Hy slaap ook nie in die hok nie, hy kiep eerder in ’n stuk wingerd teenaan die huis.

“Ek sal nooit sy vlerke knip nie . . . en as hy vlieg is dit gewoonlik in ’n radius van so 300 m rondom die huis. Ek sal hom so in die verte sien, en dan sal hy skielik weer op my kom land.”

En soms sal hy dan ook vir Tiaan-hulle iets terugbring. Nadat hy gister AWOL was, “het hy met ’n akkedis hier aangekom”.

Kraaie boei Tiaan al jare lank, des te meer nadat “ek weer in die Bybel oor hulle en Elia gelees het”. Toe sy tentonderneming, Large Events, weens die inperking kwaai houe gevat het, het sy agt- en tienjarige juis gesê: “Ons sal nooit honger ly nie; die kraai sal vir ons kos bring!”, grinnik Tiaan.

Karel was net ’n week oud toe hy hom gekry het; sy naam was eers Kraai. Hy is saam met ’n ander babakraai, wat hy Kekkel gedoop het, uit die nes geskop. Dis moeilik om kraaie hans groot te maak, “want hulle is erg oor hul ma. En ongelukkig het Kekkel, die swakker een van die twee, nie oorleef nie.

“Ek moes Karel eers met die mond voer, van ontbytpap tot rou eier. Dit was 'n morsige affêre. Later het ek ’n spuitjie gebruik.”

tiaan vermeulen, karel kraai
Foto: Verskaf

Karel, nou ’n jaar en ses maande oud, wys beslis waarom sy spesie as van die slimste voëls beskou word.

Hy ken al talle woorde en frases: van “koppie krap”, “gaan uit” en “kom sit hier” tot “Karel, nou vat jy dit te ver!” 

“Ek het hom ook pas begin leer tel. Ek sal tot by vyf tel terwyl ek op sy tone druk. Hy het reeds 'een' en 'twee' onder die knie.”

Tiaan kan sweer Karel verstaan van die goed wat hy sê. 

“Hy kom klop elke oggend halfses aan my kamervenster om my wakker te maak, en dan gaan sit ons op die stoep. Maar soms gaan klop hy sommer ook aan my buurman se venster. En as die oom hom dan verjaag sal Karel op hom skel. Hy tel ongelukkig ook skelwoorde vinnig op.”

Op sy eie werf kraai Karel natuurlik koning. Tiaan was eers bang hy en die gesin se steekhaarterriër sou vassit. Maar al het dit aanvanklik gelyk asof Vlekkie hom wou byt, het Karel hom nie laat boelie nie. En deesdae “speel die twee lekker met mekaar. Hy ry op Vlekkie se rug, of hy sal hom skielik in die agterent pik sodat hy in die lug opspring. Dis baie snaaks. 

“Hy sal nog soms die katte uit die erf jaag.” En hy duld glad nie ’n hadida op sy werf nie, iets waaroor niemand kla nie.

Baie mense op Malmesbury ken nou al vir Karel, maar Tiaan bly sy beste vriend. As hy nie in die tuin agter hom aan drentel nie, “sal hy om die huis vlieg en deur die vensters kyk in watter vertrek ek is. Hy kan eintlik soms irritirend wees, byvoorbeeld op my rug klim terwyl ek gim. Of hy val my oefentoerusting aan,” vertel Tiaan.

Hulle sal hopelik nog baie jare saam hê, want kraaie kan tot 15 jaar oud word. Natuurlik pla dit hom dat Karel wel eendag sy eie koers kan vat. “Maar as jy regtig vir iemand of iets omgee, sal jy hulle ook hul vryheid gun.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe