Hulle staan nie eens 1,2 m hoog in hul modieuse sokkies nie en gaan lank nog die skoolbanke volsit. Maar dié kleingoed laat reeds sakke vol geld inrol.

Al het hulle nog nie eens hul tienerjare bereik nie, verdien hulle die soort geld waarvan die meeste van ons net kan droom, en dit danksy ’n goeie skeut ­oulikheid, ’n knippie vrypostigheid en heelwat hulp van Mamma, Pappa – en die internet.

Dit help uiteraard as een van jou ouers reeds beroemd is – soos die musikant DJ Khaled en die Olimpiese swemmer ­Michael Phelps se kroos – maar jy hoef nie ’n Kardashian te wees om aanlyn sukses te behaal nie.

Die Britse aanlyn babawinkel Bella Baby het onlangs ’n lysie saamgestel van die top-10-Insta-kinders onder die ouderdom van 10 jaar wat die geld met geborgde plasings laat inrol. Hier is hulle – die piepklein mensies met die stewige bankrekenings.

Elle Lively McBroom 

@elle  

R256 000 per plasing

Die oulike vierjarige met die fraai kuiltjies maak R256 000 per Instagramplasing. Haar blad, wat deur haar ma, die fiksheidsmodel Catherine McBroom, en haar pa, Austin, bestuur word, het 5 miljoen vol­gelinge en tipies 900 000 mense hou van elke plasing.

Haar blad bestaan uit foto’s van haar saam met haar jonger sibbes, die een­jarige Alai¨a en die drie maande oue Steel. 

Elle, wat in Los Angeles woon, bemark grotendeels haar ouers se vrugtesap, Silly Juice, maar haar oulike danspassies het ook ’n groot treffer geword.Sy het roem verwerf nadat haar ouers ’n YouTube-kanaal, The Ace Family, in 2016 begin het. 

Met byna 20 miljoen intekenaars verdien die familie sowat R98 miljoen jaarliks.

Alai¨a Marie McBroom 

@alaiamcbroom

R144 000 per plasing

Alai¨a volg in haar ousus, Elle, se voetspore. Die tweejarige het byna 3 miljoen volgelinge op Instagram – haar rekening is net twee weke ná haar geboorte geskep – en ’n gemiddelde 700 000 aanhangers hou van elke plasing.

Sy het eers onlangs begin praat en stap, maar verdien reeds sowat R144 000 per plasing. 

Haar blad bevat foto’s van haar in oulike uitrustings, en daar is ’n plasing waar sy ’n hele koek verorber en ook waar sy saam met haar broer en suster haar ding voor die kamera doen.

Everleigh Rose Soutas 

@everleighrose

R260 000 per plasing

Dié energieke sewe­jarige van Los Angeles is in die eerste plek met ’n inkomste van sowat R260 000 per geborgde plasing. Haar blad spog met 5,1 miljoen volgelinge, en ’n gemiddelde 550 000 aanhangers hou van elke foto­plasing wat bestuur word deur haar ma, die modeblogger en fotograaf Savannah. 

Everleigh se blad is vol plasings van haar wat poseer in uitrustings en met peperduur speelgoed, asook oulike dansies saam met haar ma en babasus, Posie ­Rayne LaBrant (1) – wat reeds 1,7 miljoen volgelinge op haar eie blad het. 

Everleigh het die kollig betree toe haar ma en stiefpa, Cole LaBrant, ’n YouTube-kanaal, The ­LaBrant Fam, in 2016 begin het. Die kanaal het 13 miljoen intekenaars, met ongeveer 4 miljard kyke.

Die familie maak tot R842 miljoen per jaar uit borgskappe.

Boomer Phelps

@boomerrphelps 

R46 000 per plasing

Die swemmer Michael Phelps het sy seun se Instagramblad saam met sy vrou, Nicole, begin.

Boomer (4) het meer as 600 000 volgelinge. Sy plasings sluit foto’s van hom ­in wat saam met sy pa gholf speel en saam met sy bababoetie, Maverick, uithang. In een video het hy ’n swemles saam met sy pa.

“Swembadtyd saam met Pappa! Hy sê heeltyd vir my die beste swemmers is die beste skoppers!” skryf Boomer kastig by dié plasing.

Coco Pink Princess

@coco_pinkprincess

R48 000 per plasing

Dié modieuse 10-jarige van Tokio het meer as 630 000 volgelinge op Instagram en verdien sowat R48 000 per plasing.

Haar ma, Misato, het die blad geskep met foto’s van haar wat in modieuse uitrustings by straatmarkte, inkopiesentrums en in die natuur poseer. Coco is versot op Gucci en hou ook van uitspat­tige hoofbedekkings.

Ava Foley 

@avafoley

R61 000 per plasing 

Dié sewejarige meisie van Kalifornië het meer as 808 000 volgelinge op Instagram. Haar ma, die YouTube-ster Michelle Foley, het haar rekening geskep en plasings sluit foto’s in van haar wat duur speelgoed uit die boks pak en haar indrukke deel, haar lyf model hou in mooi rokkies en haar gimnastiekvaardighede vertoon.

Ava se beste vriendin is Everleigh Soutas, wat die eerste plek op die lysie beklee.

Ava en Leah Clements 

@clementstwins

R91 000 per plasing 

Die twee (nou 9) is al die wêreld se mooiste tweeling genoem. Hul ma, Jaqi, en pa, Kevin, het die Instagramblad begin toe Ava en Leah sewe jaar oud was. 

Hulle het byna 2 miljoen volgelinge, en hul plasings bestaan uit foto’s van hulle in bypassende uitrustings en agter-die-skerms-kiekies van hul fotosessies.

Ava en Leah, wat ook modelwerk doen, is van Orange County in Kalifornië en verdien tot R91 000 per plasing. Hulle het al in advertensies vir Target, Disney en Nike verskyn.

Taytum en Oakley Fisher

@taytumandoakley

R159 000 per plasing 

Dit blyk beslis ’n voordeel te wees om ’n tweeling op ­Instagram te wees. Dié vierjarige sussies van Los Angeles, wat spog met byna 3,2 miljoen volgelinge en ’n gemiddelde 165 000 wat hou van hul plasings, maak tot R160 000 met elke Instagramplasing.

Hul blad bestaan uit foto’s in bypassende uitrustings waar hulle saam met bekendes uithang.

Taytum en Oakley het die geld laat inrol nadat hul ouers, die aktrise Madison Bontempo en Kyler Fisher, ’n You­Tube-kanaal, The Fishfam, begin het wat meer as 4 miljoen intekenaars het.

Die Stauffer-tweeling

@kcstauffer

R181 000 per plasing 

Die vyfjarige Mila en Emma het ’n paar jaar terug bekendheid verwerf toe hul ma, Katie Stauffer, snaakse video’s van hul gesprekke – wat soos dié van grootmense klink – gedeel het. Hulle het ook al advertensies vir Amazon.com en Walmart gedoen.

Hulle word dikwels afgeneem waar hulle met hul Barbie-poppe speel, hulself opdollie en raad oor verhoudings deel.

Mila en Emma, wat in Phoenix, Arizona, woon, het ook ’n reeks kinderklere saam met hul suster en broers, Kaitlin, Charles jr. en Finn, bekend­gestel. 

BRONNE: DAILY MAIL, THE SUN, BELLA BABY, NAIL BUZZ, THE LIST, NEWS.COM.AU, ILLUMEABLY, INSTAGRAM, phlanx.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe