Daira (34), wat in Rusland woon en meer as 183 000 volgelinge op Instagram het, het as tiener haar hare laat groei nadat ’n vriendin ’n weddenskap met haar gemaak het dat sy nie haar hare lank genoeg kan laat groei vir vlegsels nie. 

Daira, wat voorheen gereeld haar hare gekleur en knip het, was vasbeslote om die vriendin verkeerd te bewys en het besluit om die haarkapper te vermy en haar hare te laat groei.

Twintig jaar later groei die ma van een se hare steeds, en sy deel dikwels foto’s van haarself op Instagram. 

Dis natuurlik nie maklik om soveel hare te versorg nie. Die eertydse model, wat in lughawesekuriteit werk, sê haar hare raak dikwels verstrik in knope en deurhandvatsels en sy moet dit in ’n vlegsel of bolla dra wanneer sy uitgaan. 

Sy was dit twee keer per week en wend olies aan om dit te voed en behandel. 

“Ek kam en stileer dit soggens in vlegsels of bollas. Bedags kam ek dit ’n paar keer, en saans kam ek dit weer en maak ’n los vlegsel. Ek slaap met los hare sodat my kop kan rus want dis heeldag vasgemaak,” het sy aan die Daily Mail gesê.

Daira knip haar hare een keer ’n jaar om van gesplete punte ontslae te raak. 

’n Mengsel van mosterd en mayonnaise is haar gunsteling-haarmasker, maar sy waarsku “dit werk dalk nie vir alle haarsoorte nie, so moenie winkels toe haas nie.”

“Neem twee eetlepels mayonnaise, mosterd en olyfolie; wend aan jou wortels; bedek dan jou hare met sellofaan en ’n handdoek. Wag een uur en was dan jou hare met warm water. Die masker stimuleer die sluimerende haarfollikels,” sê sy.

“Ek hoor dikwels mense sê: ‘Jou hare lê op die vloer’ wanneer my hare uit my vlegsel glip, en dan draai almal om en kyk hoe my hare op die grond sleep.”

Haar dogter, Evelina (11), begin ook haar hare uitgroei.

Daira moedig vroue en mans aan wat hul hare laat groei om die proses te vertrou – selfs al gaan dit ’n rukkie neem. 

“Wees geduldig wanneer jy jou hare laat groei. Moenie jou hare opmors nie en behandel dit met sorg. Wees lief daarvoor en versorg dit.”

Bronne: Popsugar, Daily Mail, The Sun, Instagram