’n Ware vriend is altyd daar vir jou, maar in sommige gevalle word dié sêding letterlik uitgeleef. Soos in die merkwaardige verhaal van Morris en Champy.

Dié twee is altyd aan mekaar se sy, want Champy se breë agterstewe is Morris se gunstelingplek – en bewaar die een wat hom daar probeer wegvat.

Die twee, wat in Australië woon, bring elke dag sa
Die twee, wat in Australië woon, bring elke dag saam deur. Foto: Instagram (@champy_and_morris)
Morris se gunstelingplek is bo-op die perd se breë
Morris se gunstelingplek is bo-op die perd se breë rug terwyl hulle in die kampie is. Foto: Instagram (@champy_and_morris)

Die swart kat en kastaiingbruin perd, albei sewe jaar oud, deel so ’n hegte band dat hulle alles saam doen. Morris, kiertsregop op sy beste pel se rug, is dol­gelukkig om die wêreld vanuit hul kampie te bekyk.

“Hulle is hul lewe lank beste maats,” sê hul eienaar, Jennifer Boyle, wat met ’n hele swetterjoel diere op ’n kleinhoewe in Nieu-Suid-Wallis, Australië, woon.

Sy het Morris by ’n katskuiling aan­geneem en sê Champy het dadelik belangstelling in die katjie getoon toe sy hom huis toe bring.

“Hy het net geweet Morris gaan sy beste vriend wees.”

Dit het Morris egter drie dae geneem om aan dié idee gewoond te raak.

“Champy het hom nie alleen gelaat nie en Morris het eindelik kopgegee. Sedertdien is hulle onafskeidbaar.”

Jennifer, ’n akupunktuurterapeut vir perde, sê sy het dadelik tot die katjie aangetrokke gevoel.

Die keuses wat diere in kruisspesieverhoudings maa
Die keuses wat diere in kruisspesieverhoudings maak, is dieselfde as wat hulle in verhoudings met diere van dieselfde spesie sou maak,” sê Marc Bekoff. Foto: Instagram (@champy_and_morris)


“Ek het nie beplan om ’n kat te kry toe ek die eerste keer met Morris kennis­-gemaak het nie,” vertel sy.

“Ek het dorp toe gegaan om ’n masseersessie te bespreek vir my seer rug en stap toe verby ’n troeteldierwinkel met diere. Toe ek Morris sien, was daar dadelik ’n band tussen ons.”

Morris, wat in die skuiling gebore is, was nege maande oud toe Jennifer hom aangeneem het.

“Ek is net spyt ek het nie vroeër op hom afgekom nie, want ek het sleg gevoel dat hy so lank op ’n tuiste moes wag. Maar ek is bly ek het hom wel gevind.”

En Jennifer is nie al een wat bekoor is deur die ongewone vriendskap tussen Morris en sy beste pel nie.

Hul vriendskap het al televisie­programme soos National Geographic se Unlikely Animal Friends, asook ver­skeie tydskrifte, aanlyn artikels, twee boeke, kalenders en dosyne blogs gehaal.

Morris die kat en Champy die perd is besties. Fot
Morris die kat en Champy die perd is besties. Foto: Instagram (@champy_and_morris)

En dis nie verbasend dat die twee ook sterre in die sosiale media is nie. Duisende aanhangers volg elke dag hul Instagramblad om op die hoogte te kom van Morris en Champy se jongste avonture.

Die perd en kat is nie net goed vir mekaar nie; hulle is terapeuties vir Jennifer.

“Twee outo-immuun­siektes, twee chroniese maag­siektes en ’n hele rits ander gesondheidsprobleme is by my gediag­noseer. As gevolg daarvan kan ek net op sekere tye werk wanneer ek gesond genoeg voel,” verduidelik sy.

Morris en Champy help haar om aan die gang te bly, sê sy.

“Hulle het oor my pad gekom op ’n tyd toe ek werklik emosioneel en fisiek gesukkel het. Hulle het broodnodige lig en lag in my lewe ge­bring.”

Hulle het haar ook – letterlik – ’n rede gegee om elke oggend uit die bed op te staan. Jennifer word soggens al douvoordag wakker gemaak – nie deur ’n haan se gekraai nie, maar deur Morris wat gretig is om uit die huis te kom en na sy beste maat te gaan.

“Hy dring daarop aan om Champy te sien. Ek grom oor ek so vroeg moet opstaan, maar dan sien ek hulle saam en dis die moeite werd.”

Morris laat spaander na Champy se kamp en spring op ’n heiningpaal, wat Jennifer die “busstop” gedoop het. Die perd kom aangedrentel, staan by die paal en wag tot sy katvriend hom op sy rug tuisgemaak het.

“Champy kan soms ’n bietjie ongeduldig raak en Morris stamp om op te skud en op te klim.

“Ek het al gesien hoe hy sy neus agter Morris sit en hom op sy rug stoot.”

Morris is op nog ’n ander manier ongewoon: Hy gee glad nie om om klere te dra nie en is versot op die roomkleurige rolhalstrui wat hom op ysige oggende op die plaas warm hou.

Morris is versot op die roomkleurige rolhalstrui w
Morris is versot op die roomkleurige rolhalstrui wat hom op ysige oggende op die plaas warm hou. Foto: Instagram (@champy_and_morris)

“Baie mense is verstom dat Morris klere dra, maar ek het nog altyd gedink dis doodnormaal,” sê Jennifer.

“Ek het as kind altyd vir die familiekat my broer se ou babaklere aangetrek, ook ’n hoedjie, en haar ure lank in die stoot­waentjie rondgestoot. Dit was my weergawe van popspeel, en die kat was dolgelukkig daarmee.”

Die ander perde is nie so gek oor Morris nie, erken sy, en die kat moes leer om uit hul pad te bly en net Champy met aandag te oorlaai.

“Dit het hom ’n rukkie geneem voor hy opgehou het.”

Dis “wonderlik” om haar twee troeteldiere se lewe in die sosiale media met ander te deel, sê Jennifer.

“Ek kry gereeld boodskappe van mense wat sê hoe gelukkig die tweetjies hulle maak. Ek hou daarvan om hul vreugde te deel en dat hulle ander mense aanraak. Hulle is spesiale diere.”  

Vriendskappe wat oor spesies strek

Dierekenners sê vriendskappe tussen verskillende dierespesies word meestal gevorm wanneer diere jonk is en gewoonlik tussen huisdiere of diere wat in kampe woon.

Daar is bewyse dat dit in die wildernis gebeur, maar dis uiters seldsaam.

“Die keuses wat diere in kruisspesieverhoudings maak, is dieselfde as wat hulle in verhoudings met diere van dieselfde spesie sou maak,” sê Marc Bekoff, skrywer en professor van ekologie en evolusionêre biologie aan die Universiteit van Colorado.

“Honde hou byvoorbeeld nie van elke liewe hond nie. Diere is kieskeurig oor die ander we­sens wat hulle in hul lewe toelaat.”

Jong diere vorm dikwels ’n band met een van die eerste diere wat hulle sien, en daardie vriendskap kan dan lewenslank duur.

BRONNE: INSTAGRAM, FACEBOOK
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.