Parsnip is die spil waarom alles in die huishouding van Lee Durkin (37) en sy vrou, Joanna (37), draai. En Joanna erken Parsnip, wat die skaal op ’n allemintige 197 kg laat kreun, kan nogal ’n regte grompot wees, veral wanneer Joanna in die omgewing is.

Haar beweging in hul huis word aan bande gelê met Parsnip se onverdraagsaamheid teenoor haar – sy het al ’n paar keer onder sy geniepsige byte deurgeloop.

“Die enigste tyd dat Joanna naby Parsnip kan kom, is wanneer dit sy slaaptyd is,” vertel Lee. Maar behoede haar wanneer Parsnip sy eiegeregtige wandelinge deur die huis onderneem.

Al wat sy dan kan doen, is om die meeste van die tyd hoog en droog op ’n stoel ver van Parsnip en Lee te sit en haarself met breiwerk besig te hou.

Maar toe sy vir Lee in 2014 ontmoet het, het sy reeds besef daar is geen ander uitweg nie: Parsnip is deel van die pad vorentoe. Lee self sê hy is ’n toegewyde enkelpa vir die vark, wat aansienlik kleiner was toe hy hom in September 2012 as ’n geskenk van sy eksmeisie gekry het.

Hy het ook geen doekies omgedraai toe Joanna vir Parsnip die eerste keer ontmoet het nie.

“As jy lief is vir my, moet jy ook lief wees vir my vark,” was Lee se voorwaarde. Hoewel hy sê Parsnip is vir hom die ougatste ding in die wêreld, is hy bewus daarvan dat ander mense hom as ’n verskrikking ervaar.

Die liefde tussen die twee het Parsnip se besitlikheid tot nou toe oorleef. Joanna het selfs vir Lee, wat sy steeds haar “perfekte man” noem, vergewe toe hy haar op 10 Maart vanjaar op hul troudag vir ongeveer drie uur alleen by die onthaal gelaat het om by Parsnip te wees.

Van ’n huweliksnag elders soos die meeste pasgetroude paartjies doen, het daar ook dadels van gekom. Hulle moes tuis bly, want Parsnip kan nie op sy eie gelaat te word nie en boonop moes Lee hom die volgende oggend kos gee.

Parsnip

Dié ongewone troeteldier is ’n kruising tussen ’n kunekune en ’n Viëtnamese vark.

’n Viëtnamese vark (wat nie met ’n ander ras gekruis is nie) is gewild as troeteldiere omdat hulle kleiner is en normaalweg van 43 tot 136 kg weeg.

Die kunekune-varkras is danksy telers van uitsterwing gered en is oorspronklik afkomstig van Nieu-Seeland, maar telers kom ook in die Verenigde Koninkryk voor.

Dis waarskynlik juis die kunekune-invloed wat Parsnip se gewig beïnvloed. Die betrokke ras kan gemiddeld 180 kg weeg.

Parsnip se lewensverwagting word op 10 jaar geskat, maar volgens The Spruce Pets kan die kunekune-ras 15-20 jaar lank leef as hulle goed versorg word.

Terloops, kunekune (uitgespreek koenei-koenei) beteken “vet en rond”.

Maar benewens Parsnip se grootte, is hy gewis in ’n klas van sy eie. Volgens Lee behoort die huis eintlik aan Parsnip, en die gelukkige vark het ook sy eie  stukkie tuin van ongeveer 25 m2.

Hy is gek oor Netflix, en geniet dit wanneer Lee sy maag met ’n tandeborsel krap terwyl hy voor ’n iPad ontspan en een fliek ná die ander met sy oë verorber.

Dit is nie bekend of enige van die Babe-flieks op sy lysie van gunstelinge is.

Ontbyt bestaande uit varkpille word elke oggend stiptelik voorgesit voor Parsnip vir ’n hardloopsessie in die tuin geneem word.

Terwyl Lee, ’n sakeman, bedags by die werk is, bring Parsnip sy dag in sy eie tuin deur waar daar ook ’n groot skuur is.

Wanneer Lee saans halfses tuiskom, word daar eers spesiale tyd met Parsnip ingeruim voor aandete saam met Joanne stiptelik om sesuur geniet word.

O ja, danksy Parsnip in hul lewe, sal Lee en Joanna nooit hul mond aan varkvleis sit nie.

Ekstra bronne: roysfarm.com, virginiamediatelevision.ie