Dit bly een van die kommerwekkendste raaisels van die moderne tyd: Hoe het die onbekende Wladimir Poetin opgang gemaak om die Russiese president te word?

’n Merkwaardige nuwe dokumentêr met beeldmateriaal van hom wat nog nooit voorheen gesien is nie, bied interessante antwoorde op dié en ander vrae waaroor geskiedkundiges en Kremlin-waarnemers al lank kopkrap.

Die dokumentêr Poetin Se Getuies is deur Witali Manski (54) gemaak. Hy was in 2000, toe Poetin president geword het, die hoof van dokumentêre flieks vir die hoofstaatstelevisiekanaal, Rusland-1.

Die dokumentêr bied ’n verstommende en unieke kykie agter die Kremlin-gordyn terwyl die geheime operasie “Opvolger”, om Wladimir Poetin aan die bewind te kry, uitgevoer is.

Dit bestaan uit beeldmateriaal wat Witali self geskiet en sedertdien geheim gehou het terwyl hy terselfdertyd amptelike dokumentêre oor Poetin, sy voorganger, Boris Jeltsin, en ook Michail Gorbatsjof gemaak het.

“Die rolprent maak Poetin, sy kollegas en die uittredende pres. Jeltsin so toeganklik, dit lyk byna onmoontlik,” skryf die rolprenttydskrif Screen International.

“Dis moeilik om te glo die materiaal in Poetin Se Getuies is eg.”

Witali, wie se vorige rolprent, In die Strale van die Son, heimlik in Noord-Korea geskiet is en talle pryse gewen het, bied ’n intieme blik op ’n keerpunt in die hedendaagse geskiedenis.

Op 31 Desember 1999 het Jeltsin die skokaankondiging op televisie gedoen dat hy as president uittree. Waar hy voor ’n tradisionele Nuwejaarsboom, versier met bolle, ligte en klaterstringe, posisie ingeneem het, het hy opgeblase gelyk terwyl hy deur sy toespraak gestamel het.

As dit vir die Russe onverwags was, was dit vir Witali verstommend. Hy het goeie kontakte in die Kremlin gehad. Hy was besig om ’n dokumentêr oor Jeltsin te skiet wat hom toegang tot die president en sy gesin gegee het. Tog het hy geen fluisteringe daaroor gehoor nie.

“Ons het geweet Jeltsin het sy jaarlikse Oujaarsaankondiging op 27 Desember opgeneem,” vertel Witali. “Maar op 31 Desember het die Kremlin die kameramanne weer ontbied, en hulle het sy nuwe aankondiging opgeneem.

“Agterna is die kameramanne in afsondering gehou. Hulle kon niemand bel nie, nie familielede of enigiemand nie. Dit was ’n ongelooflik geheime operasie op staatsvlak.”

Jeltsin (68) het die Russiese volk van 145 miljoen ingelig hy het sy waarnemende premier, Wladimir Poetin (toe 47), as waarnemende president aangestel tot ’n vroeë verkiesing einde Maart 2000 gehou sou word.

Jeltsin het die stroewe Poetin geloof as “’n sterk man wat die presidentskap waardig is”. Poetin, voorheen die hoof van die federale sekuriteitsdiens, die FSB, die opvolger van die KGB, het binne die vier maande dat hy premier was gewild geword omdat hy genadeloos teen Tsjetsjnië oorlog gevoer het.

Die vryheid van spraak, van aanbidding, van die pers, van eiendomsregte, dié grondbeginsels van ’n beskaafde samelewing, sal deur die staat beskerm word.

Op dieselfde dag het Aleksi II, die patriarg van die Russies-Ortodokse Kerk, Poetin tydens ’n seremonie in die Kremlin as opvolger ingehuldig. Toe hy om middernag die nasie vir die eerste keer as waarnemende president toespreek, het Poetin mense probeer gerusstel wat hul bedenkings gehad het omdat hy uit die geledere van die Sowjet-KGB kom.

“Die vryheid van spraak, van aanbidding, van die pers, van eiendomsregte, dié grondbeginsels van ’n beskaafde samelewing, sal deur die staat beskerm word,” het hy beloof.

Millennium-manewales

Die volgende dag, op 1 Januarie 2000, het Poetin, skynbaar in ruil vir sy aanstelling, ’n verordening onderteken wat sy voorganger van vervolging vrywaar. Jeltsin en sy familie is tydens sy bewind van korrupsie beskuldig. Poetin het vir Jeltsin ’n pensioen, ’n plattelandse woning, lyfwagte en gesondheidsorg vir hom en sy gesin laat kry.

Witali was eers ten gunste daarvan dat Poetin president word, want hy het self gesien Jeltsin was te sieklik om te regeer. Maar in 2004 het Witali by Rusland-1 bedank, want sy idees vir programme is gesensureer toe Poetin beheer oor die media oorneem.

Witali en sy gesin leef nou in ballingskap in Riga, Letland, nadat hulle Rusland in 2014 verlaat het.

Intussen leef sy landgenote, wat in die chaotiese 1990’s kortstondig vryheid onder Jeltsin gesmaak het, nou ál meer in die diktatoriale greep van ’n president wat reeds byna twee dekades lank aan die bewind is.

En die wêreld sit opgeskeep met ’n genadelose baasspeler wat Oekraïne binnegeval en die Krim beset het, met die verkiesings van ander lande inmeng, sy vyande op buitelandse grondgebied vergiftig en dalk wel pres. Donald Trump van Amerika met ’n stukkie verdoemende inligting afdreig.

Toe hy hoor Poetin sou waarnemende president word, het Witali dadelik beeldmateriaal vir ’n dokumentêr, Wie Is Mnr. Poetin?, begin versamel. Dit is net voor die verkiesing in Maart 2000 op Rusland-1 uitgesaai. Poetin het die eerste verkiesing met 53% van die stem gewen.

“My span het die presidensiële kandidaat noukeurig gedokumenteer in sy onvermoeide ywer tot voordeel van die mense,” vertel Witali in ’n agtergrondstem gelaai met ironie in Poetin Se Getuies.

Met ongeëwenaarde toegang tot Poetin, sy vriende en kollegas het hy die menslike sy van die voormalige KGB-offisier in sy dokumentêr vir die Russiese volk gewys. Witali het byvoorbeeld vir ’n roerende en emosionele toneel gesorg toe hy voorstel Poetin besoek sy ou skoolonderwyseres in haar woonstel in St. Petersburg.

Die rolprent wys Poetin ook, in skrille kontras met die besope en wispelturige Jeltsin wat die Russe later verafsku het, as ’n sterk en besliste leier wat gewonde troepe vertroos, fabrieke besoek en die Tsjetsjniese rebelle veroordeel.

“Almal wou ’n jong, bekwame president hê,” sê Witali.

Maar nou is hy bitter spyt oor die sleutelrol wat hy daarin gespeel het om Poetin te help om president te word.

“Vandag is dit onmoontlik om te verstaan hoe ons dit nie kon sien nie,” erken hy waar hy in sy karig gemeubileerde, moderne woonstel in Riga sit en tee drink.

'Selfdood-gedagtes'

Witali, bebaard en swaarmoedig, weet die onthullings in die dokumentêr stel hom aan nog groter gevaar bloot. Die owerheid sal nou wel nie toelaat dat dit in Rusland vertoon word nie, maar hy was bekend in sy geboorteland, en dit is gevaarlik om te uitgesproke in jou verset teen Poetin te wees.

Maar al weet hy sy lewe is in gevaar, kan hy niks daaraan doen nie.

“Ek probeer nie daaraan dink nie,” sê hy. “Ek geniet liggaamlik en geestelik goeie gesondheid. Ek het geen selfdoodgedagtes nie. As iets met my gebeur, sal dit nie toevallig wees nie.”

Eers het hy Poetin as “sjarmant” beleef, sê Witali. Hulle het heelwat tyd saam deurgebring. In die jaar ná die verkiesing het Witali nog ’n dokumentêr geskiet, oor die lewe in die Kremlin, waarin Poetin ook verskyn het.

“Hy het ’n mooi manier van kommunikeer gehad,” vertel Witali.

“Hy sou oor my vrou, familie en kinders uitvra, en natuurlik voel jy gevlei. Jy aanvaar hy bedoel dit opreg. Poetin is ’n gawe ou, dink jy. Maar het hy ’n menslike gevoel oorgedra of het ek met ’n beroepsverleier gekommunikeer?”

'Staat eerste, mense tweede'

Met watter gerusstellende gemeenplase oor die demokrasie Poetin ook al tydens die presidentsverkiesing in die openbaar vorendag gekom het, teenoor Witali het hy geen doekies oor sy KGB-ideologie omgedraai nie.

“Besluite sou in die belang van die staat geneem word,” het hy reguit vir hom gesê, “of dit nou ’n positiewe of negatiewe reaksie ontlok. Hy sê die belange van die staat kom eerste; die mense tweede,” verduidelik Witali.

Tog het hy ’n mate van onsekerheid by Poetin bespeur terwyl hy sy voete gevind het. Witali sê hy kon die Russiese leier opdragte gee, vir hom sê waar hy moet staan, voorstel wat hulle moet skiet; selfs sy besluit bevraagteken om die Sowjet-vlag terug te bring.

“In daardie stadium was hy nog ’n bietjie skaam vir en ongemaklik met mense,” vertel Witali. “Maar hy het ook besef hy is gekies om ’n rol te speel.”

In Poetin Se Getuies het Witali ’n toneel ingesluit wat hy nooit destyds sou kon wys nie. Toe die verkiesingsuitslae duidelik word, het Witali, wat daardie aand in Jeltsin se woning verfilm het, voorgestel hy bel Poetin en wens hom geluk.

Aan hom word toe gesê Poetin sal hom terugbel, maar hulle wag vergeefs terwyl Jeltsin ál meer geïrriteerd en gefrustreerd raak. Dit is ’n illustrasie van mag en hoe Poetin in ’n oogwink vir Jeltsin wys hy is dit kwyt.  

Party mense meen Poetin is ’n toevallige president wat op die regte tyd op die regte plek was. Ander meen die “familie” – sleutellede van Jeltsin se huishouding en miljardêr-oligarge soos Boris Berezowski wat hy verryk het – het toegesien dat Poetin hom opvolg.

Maar Witali hou vol dit was geen toeval nie.

“Dit het alles agter geslote deure plaasgevind en met geen derde mens daar teenwoordig nie,” sê hy.

“Maar Poetin was in 1998 die hoof van die FSB. Die hoof van die FSB weet alles wat in die land gebeur. Hy het geweet wat die uitslae van geheime vraelyste was om uit te vind wat mense alles van hul volgende president verwag.

“En op ’n bepaalde oomblik het hy homself voorgestel en gesorg hy voldoen aan al die vereistes.”

Jeltsin se familie was duidelik verlig toe Poetin die eerste verkiesing wen en het die uitslag met sjampanje gevier. Hulle het geweet die nuwe leier sou hul veiligheid en voorspoed verseker.

“Dit was die wese, die betekenis van die hele operasie,” sê Witali. “Hulle het ’n man nodig gehad wat dit vir hulle sou doen.”

Jeltsin het gespog dat hy Poetin self gekies het, maar Witali meen Jeltsin se dogter, Tatjana, het ’n deurslaggewende rol in die oordrag van mag gespeel. Namate Jeltsin se gesondheid agteruitgegaan het, het sy haar pa se regterhand geword.

“Haar rol was so groot en belangrik dat woorde dit nie kan beskryf nie,” sê Witali.

“Maar sy het nooit die komplotte gesmee nie; sy het bloot die inligting aan haar pa oorgedra. Maar dan kon sy natuurlik kies wie sy aan hom voorstel.

“Die eerste mens met wie Jeltsin oor die foon gepraat en bedank het toe hy hoor Poetin het gewen, was Walentin Joemasjof (sy voormalige personeelhoof). Binne ’n jaar is Joemasjof en Tatjana getroud.”

In Junie vanjaar het Poetin se mediawoordvoerder onthul Joemasjof was 18 jaar lank, sedert Poetin die eerste keer tot president verkies is, ’n geheime raadgewer van hom.

Die familiebande is verder verstewig toe Joemasjof se dogter, Polina, met die aluminiummagnaat Oleg Deripaska trou. Hy was in die vroeë 1990’s die rykste man in Rusland met ’n geraamde fortuin van $28 miljard (toe R252 miljard) en het hegte bande met Poetin behou.

Dié het Oleg ná die ineenstorting van 2007 uit finansiële moeilikheid gered, terwyl dit ander oligarge se ondergang beteken het.

Ek pols hom oor Boris Berezowski, die uitgeweke oligarg wie se dood in 2013 by sy huis in Berkshire, Engeland, steeds ’n raaisel bly. Boris het altyd beweer hy was Poetin se mentor.

“Hy (Boris) was nie by die operasie betrokke nie,” sê Witali. “Hy is as die eienaar van TV-stasies en koerante gebruik. Maar hy was nie die poppemeester nie.”

Was ’n poppemeester aan die werk?

“Ja,” antwoord hy. Ná ’n lang pouse voeg hy by: “Maar ongelukkig sou ek dit nie waag om sy naam te noem nie, want ek het geen idee wat die gevolge sou wees nie. Dit is beter om oor hierdie kwessie te swyg.”

Die herinnering aan wat met mense gebeur wat vir Poetin geen nut meer het nie, laat jou koue rillings kry.

“Die mense wat Poetin aanvanklik gehelp het om die mag te bekom, was nie dieselfde as dié wat eindelik saam met hom opgang gemaak het nie,” verduidelik Witali.

“Hy het vinnig beheer geneem. Die eerste ding wat hy gedoen het, was om die onafhanklike media dood te maak. Toe vernietig hy die privaat ondernemings en die oligarge.”

Op die verkiesingsaand, terwyl een van Witali se kameras aan die rondswaai is in die geheime hoofkwartier van waar Poetin se veldtog gevoer is, al het hy in die openbaar volgehou hy het geen veldtog nie – ons sien talle eens magtige lede van die binnekring wat nou in die opposisie, in ballingskap, gediskrediteer, dood, of in die geval van Poetin se eksvrou, Ljoedmila, van hom geskei is.

Onder hulle tel Michail Kasjanof, Poetin se eerste premier. Die staatsmedia het Kasjanof in die middel 1990’s van korrupsie beskuldig, en hy het verskeie doodsdreigemente gekry.

Sy vriend en mede-opposisieleier, Boris Nemtsof, is in 2015 naby die Kremlin vermoor. Ook Michail Lesin, tot 2004 die minister van die pers en uitsaaiwese, word in die dokumentêr gesien. Hy is in 2015 in verdagte omstandighede in ’n hotelkamer in Washington, D.C., dood.

Talle mense is steeds verstom oor die gewaagdheid van die moord op Alexander Litwinenko, die voormalige spioen wat in 2006 op Britse grondgebied met die radioaktiewe stof polonium vergiftig is. En vroeër vanjaar is die dubbele agent en gewese FSB-offisier Sergei Skripal ook in Brittanje met die senugif nowisjok aangeval.

“Dis eenvoudig,” sê Witali hieroor. “In die KGB en die FSB is een vaste beginsel: Die verraaier moet sterf.”

Maar hoekom hulle met gifstowwe aanval wat so maklik na Rusland nagespoor kan word?

“Dis hul handtekening en ’n waarskuwing,” sê Witali.

Baie meen Litwinenko is vermoor omdat hy in die openbaar volgehou het Poetin was vir ’n reeks grusame woonstelbomaanvalle laat in 1999 in Rusland verantwoordelik. Vier bomaanvalle binne twee weke in September 1999 het byna 300 lewens geëis en die land geruk. Die Russiese regering het die skuld daarvoor op Tsjetsjniese rebelle gepak.

Witali onthou die presiese oomblik toe hy meen Poetin begin stemme werf het.

Dit was net ná middernag op 9 September 1999 toe ’n woonstelblok in Moskou deur ’n reusebom van 400 kg verwoes is. Die ontploffing waarin 94 mense dood en 249 beseer is, het terreur na die hart van die Russiese hoofstad gebring.

“Die land was vreesbevange,” vertel Witali in Poetin Se Getuies.

Poetin, wat toe pas premier geword het, het dadelik steun gewen met sy vergeldende bomaanval op die Tsjetsjniese hoofstad, Grozni. Die Russe het Poetin se kru dreigement geniet oor wat hy die Tsjetsjniese terroriste sou aandoen:

“As ons hulle in die toilet vang, sal ons hulle in die kleinhuisie van kant maak.”

Ná ’n ongenaakbare militêre veldtog is Grozni met die grond gelykgemaak en in Februarie het die Russiese weermag die stad ingeneem. Duisende het gesterf.

Witali het voorgestel Poetin besoek die verwoeste woonstelblok in Moskou heimlik in die nag. Terwyl hulle in die straat staan, speel ’n verstommende toneel af toe hy vir Poetin vra: “Dink jy die doel heilig die middele?”

Poetin lyk verbaas en soek vergeefs na woorde terwyl hy klaarblyklik dink die vraag is of hy vir die bomaanvalle verantwoordelik was en dit kan regverdig. Hy vra Witali om die vraag te herhaal en dié verduidelik toe hy wil weet of die terroriste die bomaanval sal kan regverdig.

“Ek is oortuig Poetin was nie by die bomaanvalle betrokke nie,” sê Witali. “As hy betrokke was, het die lewe geen betekenis nie. Dit is so ’n fundamentele boosheid dat dit nie moontlik is nie. Ek herhaal: Poetin was nie betrokke nie.”

Die bomaanvalle het beslis tot Poetin se voordeel gestrek.

“Toe Poetin premier word, was sy gewildheidsyfer nul. Twee weke later het die bomme begin ontplof en peilings het gewys hy word ál gewilder. Binne ’n paar maande was hy onder meer as 50% van die bevolking gewild.

“Poetin is ’n uiters magtige mens, die magtigste in die 21ste-eeuse politiek. Dit is nie ’n kompliment nie. Hy het Rusland verower deur met sy wette tafeltennis te speel. Hy het almal uitgestof.”

Ek vra vir Witali wat ons nie van Poetin weet nie wat ons eintlik moet weet.

“Die belangrikste ding is dat ons niks oor hom weet nie,” antwoord hy.

“Ons weet niks van wie hy liefhet nie. Ons weet niks van sy dogters nie. Sy kinders het hul van verander. Dis ’n staatsgeheim wie hulle is. Hy is ’n mens wat niks intiems met die wêreld en sy eie mense kan deel nie. Dit is sy belangrikste karaktertrek. Daardeur kan jy baie oor hom verstaan.”

Met dié dat Poetin van talle van die mense uit sy verlede ontslae geraak het, is die mense wat nou die naaste aan hom is sy veiligheidswagte, sê Witali.

“Hulle het in soortgelyke omstandighede as hy grootgeword. Hy doen heeltyd saam met hulle judo. Hy het my die tatami-mat in sy woning gewys waarop hy judo doen.

"Wanneer hy saans van die Kremlin af by die huis kom, neem hy sy veiligheidsmense na sy tatami om saam met hom te oefen. Jy hou ’n ander man om die skouers vas; julle is almal sweterig. Mense word baie intiem.”

Witali is verstom oor die gedaantewisseling wat Poetin die afgelope twee dekades ondergaan het. In Poetin Se Getuies lyk hy soos ’n gewone mens, met sakke onder sy oë.

“Ek dink Poetin se gesig, wat drasties gebotoks is, is walglik,” sê Witali.

“En die operasie om sy wange breër te maak . . . Maar hy het geweet wat hy doen. Eintlik is dit heeltemal reg vir ’n politikus soos Poetin om so ’n gesig te hê. Hy pas by die gesig wat hy nou het.”

NOU: Poetin op 1 September 2018. Foto: Gallo Images/Getty Images.
TOE: Poetin op 11 September 1999. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Witali meen Poetin sal nooit vrywillig van sy mag afstand doen nie.

“Dalk sal hy op die ou end soos (die Chileense diktator Augusto) Pinochet in ’n rolstoel hooggeregshof toe gaan. Dalk sal hy soos (die Irakse president) Saddam Hoesein wegkruip. Dalk sal hy heeltemal seniel raak soos (die diktator van Portugal António de Oliveira) Salazar. Maar hy sal geen ander moontlikheid hê nie.

“Vir enigiemand wat langer as 25 jaar aan die bewind is, is die dood weens swak gesondheid. Die beste was Stalin s’n: 24 uur in jou eie urine. Dit is die beste dood wat Poetin kan hê.”  

© Christopher Goodwin/The Times Magazine/ News Licensing; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/AFP, SCREENGRABS