Op die Nelson Mandela-plein in Sandton was ’n uitbundige skare; by sportklubs landwyd het swart en wit mekaar huilend omhels; in Langstraat in die Kaapse middestad het ’n dawerende gejubel, van ver hoorbaar, opgeklink – alles danksy die derde Wêreldbeker wat ons Bokke huis toe bring.

Maar dat selfs die gasheerland, Japan, die vreugdevure oor die Bokke se oorwinning so hoog laat brand het, was ’n aangename verrassing.

Die Japannese rugbyspan het vanjaar Wêreldbeker-geskiedenis gemaak toe hulle die eerste span uit Asië geword het wat vir die kwarteindstryd gekwalifiseer het deur Skotland in Jokohama met 28-21 te klop. Al is Japan in die halfeindstryd uitgeskakel toe die Bokke hulle met 26-3 vermorsel het, het hul ondersteuners hulle in die eindstryd agter die Bokke geskaar.

Willie Scholz en sy pa het besluit om te vlieg net na die halfeindrondte. Foto: Verskaf

In die stadion en selfs in die strate was honderde Japannese geklee in groen en goud; in kroeë en restaurante het ondersteuners ons landsvlag laat wapper – en ’n video waarin Japannese ondersteuners die Suid-Afrikaanse volkslied oor die veld laat eggo, is wyd in die sosiale media versprei. Hulle het dié lied spesiaal vir die Wêreldbeker geleer.

Rassie Erasmus, die afrigter, het tydens ’n perskonferensie gesê: “Iets wat vir my uitstaan – en ek dink nie ek het dit elders gesien nie – is hoe die landgenote van die gasheerland (Japan) die Springboktrui dra. Dit toon baie respek en ek dink ons kan baie daaruit leer.”

Buiten die Japannese en Suid-Afrikaners was daar ook elders in die wêreld geesdriftige steun vir die Bokke en vreugde oor hul sukses.

In Uganda het die plaaslike rugby-unie ’n foto van hul lede in Springboktruie op Twitter gedeel.

Springbok ondersteuners
Willie vertel dat daar baie Springbok-ondersteuners in die skare was. Foto: Verskaf

Selfs die Bonymaen-rugbyklub in Wallis, die klub vir wie die huidige Walliese kaptein, , vroeër jare gespeel het, het ons span in Boktruie aangemoedig. 


Kirsten Teasdale – rokvrou

Dié foto het wêreldwyd reaksie ontlok: Die glimlaggende donkerkopvrou in haar noupassende balrok met die patroon van die Suid-Afrikaanse vlag.

In die sosiale media het talle laat hoor: Sy is sekerlik een van die grootste Bok-ondersteuners nóg.

En dis heeltemal waar, sê Kirsten Teasdale van Johannesburg. Sy het dié rok in 2011 self gemaak en het dit al na sewe Wêreldbeker-wedstryde gedra waarin die Springbokke gespeel het.

“Elke keer is mense mal oor die rok. Maar ek doen dit nie vir myself nie. Ek doen dit omdat ek so geweldig trots is op ons land en ons span.”

En suur druiwe was daar ook

Ná die Bokke hul eerste groepwedstryd teen die All Blacks verloor het, het die Suid-Afrikaanse span behoorlik deurgeloop in ’n video waarin Johan de Jonge van Gauteng mond uitspoel oor hoe swak die Bokke is en luidkeels verkondig hulle verdien g’n plek in die Wêreldbeker-eindstryd nie.

Die video het talle die josie in gemaak, maar nou lag Bok-ondersteuners laaste.

In die video sê Johan onder meer: “Julle het mos gedink die All Blacks is op ’n afdraandepad. Ag, siestog.”

Deur sy kekkellag stoom die Bokke se kwaaiste kritikus voort: “Ek hoop julle voetsek uit dié Wêreldbeker nog voor die kwarteindstryde begin.”

Maar toe loop Johan self deur: Engeland het die All Blacks in die eerste halfeindstryd geklop; en die Springbokke het geseëvier teen Wallis in hul Wêreldbeker-halfeindstryd.

En sedert dié oorwinnings is Johan tjoepstil.

“Die arme ou kry dreigoproepe, selfs van ou skoolvriende,” vertel ’n kennis.