Die plaaslike sangeres, wat agt maande swanger is, het verlede naweek haar dogter se naderende koms gevier met ’n spoggerige ooievaarstee by die Pablo House-gastehuis in Melville, Johannesburg.

Bekendes soos Shashi Naidoo, Poppy Ntshongwana en die indie-folk-sangeres Tailor is vermaak deur DJ’s Kimmy K en Baby Boosh, en het teen sonsondergang met vonkelwyn – amper-mamma Tamara het natuurlik nie daarvan gedrink nie – ontspan. 

Pragitge pienk geskenke vir Tamara en haar dogter was hoog op tafels gestapel, maar die sangeres van die liedjie Colours het besluit om eerder die geskenke by die huis oop te maak.

Tamara het ’n kykie na die partytjie vroeër vandeesweek op Instagram gedeel, met ’n oulike foto van haar wat ’n wit koek vashou en daarby geskryf: “#ShesGoldBabySolidGold #ItsAGirl. Dankie aan almal wat verlede naweek saam met my gevier het.”

Toe die ster haar swangerskap in September aankondig, het sy gesê sy het nie enige van die gewone tekens ervaar nie – behalwe ’n vreemde lus vir naartjies.

“Ek’s in my tweede trimester en is mal daaroor. Ek het gedink ek sou ’n totale wrak wees as ek swanger is, maar dit was die teenoorgestelde en ek voel baie geseën daaroor,” het sy aan die Sunday Times gesê.

“Ek voel baie geseën. EK was so gefokus op my loopbaan en die waarheid is dat hierdie kans my so maklik kon verbygaan. Ek weet dit sal die moeilikste, maar belonendste ding wees wat ek nog ooit gedoen het en my siel is gereed vir hierdie les.”

Ekstra bron: Sunday Times

Foto’s: Verskaf