Dié 11-jarige seun se vaardighede agter die tromme het mense omtrent aan die praat. Hy tree gereeld by skole op en het selfs die aandag van die plaaslike rapper Early B ontlok. 

"Ouens, check gou vir @dominicmcnabbdrums uit, die outjie is ’n legende op die tromme. (Hy) inspire ander laaities om weg van al die negatives af te bly en te aim vir ’n beter lewe," het Early B op Instagram by ’n video van Dominic laat hoor. 

Dominic sê hy was "baie, baie gelukkig" toe sy rolmodel, Early B, hom in die sosiale media prys. Hy sal graag eendag saam met hom of Emo Adams, nou die nuwe Noot vir Noot-aanbieder, wil optree.

Dominic se pa, Clinton, praat met lof van sy musikale seun. Hy en sy vrou, Stephanie, het dit goed gedink om hom tuis te onderrig vanweë sy talle optredes. 

"Hy is ’n groot entertainer; baie gek daaroor om ander kinders te bemoedig en hy hou daarvan om mense gelukkig te maak," vertel Clinton aan Huisgenoot kort ná een van Dominic se optredes by die Laerskool Westerlig in Danville, Pretoria. 

musiek,broers
Dominic (regs) en sy jonger broer, Dwayne Mc Nabb. Foto: Verskaf

Dominic speel reeds van agtjarige ouderdom die tromme in verskeie kerke in Centurion en het vyf maande gelede by Doxa Deo Raslouw, ’n godsdienstige organisasie in Pretoria, as ’n aanbiddingstromspeler aangesluit. 

Hy help graag sy jonger boetie, Dwayne (7), om die klawerbord te speel.  

musiek
Dominic se jonger boetie, Dwayne is ook baie lief vir musiek. Foto: Verskaf

“Ons is baie trots en moedig hom aan. Ons het nie geweet dit sou so ver gaan nie. Hy het op vyfjarige ouderdom ’n tromstelletjie gekry en het nooit weer teruggekyk nie,” vertel Clinton, wat self baskitaar speel. 

Dominic hoop dat sy talent ander kinders sal inspireer om weg te bly van dwelms en ander sosiale euwels.

"Ek wil my talent aan ander jong kinders leen sodat hulle sal wegbly van tik, dwelms en drank en eerder sokker of ander sport van hul keuse sal navolg,” sê hy. 

musiek,familie,talent
Dominic (middel) saam met sy jonger broer, Dwayne (regs) en hul niggie, Chloe Esterhuizen (11).

"Talle van dié kinders se ouers kan hulle nie help nie; dus probeer ek help en sê hulle moenie tou opgooi nie, met die Here is enigiets moontlik."

Sy droom is om eendag in die wêreld se grootse stadions op te tree en sy roem te gebruik om ’n sentrum vir arm en hawelose mense op te rig. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!