Te midde van die onsekerheid en hartseer het die Hoërskool Rustenburg se koor Maandag ’n nuwe verwerking van Coldplay se liedjie "Fix You" in die sosiale media gedeel, met een tema wat luidkeels uitbasuin word: Hoop! 

“Ons wou nie in hierdie jaar sommer net enige liedjie doen nie. Ons het spesifiek iets gesoek wat ’n boodskap van hoop uitdra,” vertel die Engels-onderwyseres Lize Meyer, ’n koorleier by die skool.

“Ons het baie met ons kinders gepraat en agtergekom hulle voel hierdie jaar is vir hulle verlore. Veral vir die matrieks wat so uitgesien het na ’n wonderlike jaar vol hoogtepunte,” voeg sy by.

Hulle het dus op "Fix You" besluit, want hoewel die lirieke “stuck in reverse” veral hierdie jaar klinkklaar opsom, moedig die liedjie ook sy luisteraars aan dat ’n mens moet aanhou glo en hoop.

Hoërskool Rustenburg
Die kinders moes streng covid-19-maatreëls toepas om die video te laat gebeur.

“Wanneer ’n mens met sulke pragtige jong kinders soos ons s’n werk, dan het struikelblokke ’n manier om in geleenthede te verander en uitdagings word eintlik ’n inpsirasie,” verduidelik Madeleen Koch, medekoorbestuurder en musiekonderwyseres.

Die Hoërskool Rustenburg se koor het omtrent presies ’n jaar gelede opspraak gemaak toe hul weergawe van die Queen-treffer "Bohemian Rhapsody" van hulle internetsterre gemaak het.

Toe was die gewilde Ndlovu-jeugkoor se dirigent, Ralf Schmitt, ook nog deel van die koor se afrigtingspan. Al is hy weens sy besige skedule nie meer deel van die span nie , het hy te danke aan sy liefde vir die skool en die kinders dadelik ingestem om weer met hierdie video se opname te help.

Foto: Verskaf.
Hoërskool Rustenburg
Foto: Verskaf.

“Ons moes die stemme een vir een, en in kleiner groepies opneem om by die covid-19-regulasies te hou,” vertel Ralf.

“Omdat ons nie die hele koor in een vertrek kon laat sing het nie, moes die hele koor ook hul stemme per voice note deurstuur,” sê hy.

In minder as 24 uur is die liedjie al amper ’n halfmiljoen keer op Facebook gekyk en is dit besig om teen ’n reusespoed luisteraars reg oor die land se harte te vermurwe.

Die skool, wat hierdie jaar sy 98ste bestaansjaar vier, het in November 2019 ’n nuwe skoolhoof verwelkom en dié het ook oor die skoolkoor gekoer.

“Trots, dit is die eerste emosie wat by my vassteek wanneer ek na ons weergawe van "Fix You" luister," vertel die skoolhoof, Hennie Pieterse. "Die koor gee hoop en verenig ons te midde van die moeilike tye."

Rialet Visser, ’n solis in die video, vertel dat hulle weens die skool se streng covid-19-maatreëls vir die eerste keer weer as koor bymekaar gekom het om die video te skiet. En selfs toe moes hulle maskers dra en ’n afstand tussen mekaar handhaaf.

“Die fakkels het nogal gehelp om almal uitmekaar uit te hou,” lag Rialet.

Hoërskool Rustenburg
Rialet Visser is 'n solis. Foto: Verskaf.

Ralf het vir Rialet gevra om te dink aan iets wat sy verloor het, om die emosie in haar stem tuis te bring, vertel haar pa, Bernhard Visser.

“Ek het haar gevra wat dit is, toe antwoord sy: ‘my matriekjaar’,” sê Bernhard, die beheerliggaamvoorsitter by die skool.

Al is daar soveel melancholie en onsekerheid teenwoordig hierdie jaar, is Bernhard opgewonde oor die skool se nuwe projek.

“Hoërskool Rustenburg se koor wil die lig wees wat hierdie donker en onseker tyd kom verlig,” vertel hy.

“Ons is dankbaar om iets te hê waarop die kinders kan terugkyk en weet 2020 was nie heetemal verlore nie,” beaam Madaleen.

“As ons vir ’n paar mense ’n boodskap van hoop kan deurgee, dan het ons ons doel bereik. En as ons net vir ons eie kinders kon laat glo daar is altyd hoop, dan het ons absoluut ons doel bereik,” sê Lize.