Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Maandag gewaarsku teen oorstromings in Gauteng, Limpopo en Mpumalanga. 

Reddingswerkers spook al van vroeg Maandagoggend af om gaste van die Centurion Lake-Hotel wat weens die oorstroming vasgekeer was, te red. 



Charles Mabaso van die Tshwane-nooddienste het egter bevestig dat die gaste ongedeerd is. 

“Die voorportaal van die hotel is onder water, maar die gaste is op ’n hoër vloer en ons is tans besig om manier te kry om hulle uit die hotel te kry.” 

’n Motoris moes ook vanoggend in Irene in Centurion gered word. 

“Ons het die oproep gekry van ’n persoon wat ’n sleepwaentjie gesleep het en by ’n laagwaterbrug vasgeval het.”

Verskeie paaie in Centurion is gesluit weens die Hennopsrivier wat oorstroom het. 


In Johannesburg is slegs ’n voorval in Barry Hertzog-rylaan aangemeld waar ’n boom in die pad geval het. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens behoort die reën teen Donderdag op te klaar.

Hoe gemaak met oorstroming en hoe bly jy veilig?   

Volgens ER24 is daar verskeie wenke wat jy kan volg wanneer oorstromings dreig. 

  • Hou waarskuwings deur die weerdiens dop.
  • Vertroue slegs waarskuwings van geakkrediteerde bronne en moenie waarskuwings wat op WhatsApp sirkuleer aanstuur nie. 
  • Probeer skuiling vind wanneer jy in ’n hewige storm vasgevang is.
  • Sorg dat jy nie naby bome of in die oopte is waar weerlig kan slaan nie. 
  • Vind ’n alternatiewe roete waar daar oorstromings is en moenie probeer om deur dit te ry nie. 
  • Probeer om uit jou motor te kom as jy in ’n sterk stroom vasgevang is en probeer enigiets gryp en trek jouself na veiligheid. 
  • Beweeg na hoër grond en ontbied die nooddienste.