Die videogreep van die Indonesiese vlootsoldate wat so opgeruimd sing, is geneem kort voor die hele bemanning van hul gedoemde vaartuig – 53 altesaam – in een van die ergste duikboot-katastrofes in die onlangse geskiedenis dood is.

Die titel van die treffer wat hulle ietwat vals dog glimlaggend en met ’n sweem heimwee sing terwyl een van hulle op ’n kitaar tokkel, is ironies Sampai Jumpa, oftewel “Tot ons weer ontmoet”. Min het hulle toe geweet die KRI 402 sou langs die kus van Bali sink.

En nou het die spontane sang hul hartseer afskeidslied geword; die videogreep wat oorspronklik deur die Indonesiese weermag uitgereik is, word oral op die internet gedeel terwyl hul geliefdes en landgenote rou.

Indonesiese weermaghoofde het bevestig dat daar geen hoop meer is dat enige van die KRI 402-bemanning lewend gekry sal word nie nadat die wrak van die duikboot, wat in minstens drie stukke opgebreek het, op ’n diepte van sowat 850 m opgespoor is.

Die duikboot het vir ’n torpedo-oefening voorberei toe alle kontak daarmee ’n week gelede verloor is. ’n Uitgebreide soektog het gevolg waaraan talle skepe en helikopters deelgeneem het.

Australië, Indië, Amerika, Maleisië en Singapoer het gehelp en sonartegnologie van laasgenoemde het blykbaar die deurslag gegee.

Indonesiërs het nog dae gelede in die sosiale media gevra dat mense moes bid vir die 402 – dat dit gevind word voor die bemanning se suurstof opraak.

Dis nog onseker presies wat die ramp veroorsaak het, maar Yudo Margono, die hoof van die Indonesiese vloot, het verklaar dat dit nie aan menslike foute te wyte was nie.

“Die duikboot het in drie dele opgebreek – die stert en die hoofromp is geskei . . . die hoofromp het gekraak.”

Australiese duikbootkenners het intussen bespiegel dat die duikboot – aan die ou kant – weens ’n lek moes gesink en die romp toe weens die geweldige toename in waterdruk meegegee het.

Die vaartuig is immers gebou met ’n diepte-gradering van omtrent 250 m, wat beteken dit sou moontlik vir kort tye dieptes van tot 450 m kon weerstaan . . . maar dit het tot naby aan ’n kilometer diep gesink. 

Van die stille getuienis dat die bemanning alles gedoen om te probeer oorleef, en van hul laaste angsvolle oomblikke, was tekens dat hulle reddingspakke om uit die duikboot te ontsnap uit hul verpakking gehaal het.

Van hul geliefdes het nou gevra dat hulle liggame ten minste herwin word sodat daar behoorlik van hulle afskeid geneem kan word. Weermaghoofde se reaksie was dat alle pogings aangewend sal word, maar dit op so ’n diepte ook ’n baie moeilike operasie sou wees.

Bronne: Reuters, YouTube, scmp.com, theguardian.com, Facebook

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe