Tog was talle televisiekykers, rugbyspelers en toeskouers nie juis baie ingenome met Kurt Darren se weergawe van Nkosi Sikelel’ iAfrika by die Varsitybeker-eindstryd op Stellenbosch nie. 

Party mense het gelag en ander was ontsteld toe Kurt Maandag tydens sy optrede voor ’n volgepakte Danie Craven-stadion van die lirieke van die nasionale lied verkeerd sing. 

"Ek weet dis sleg nè, maar ek dink dit is so snaaks. Dankie bra Kurt . . . Siestog hy was so opgevang in die melodie van sy eie stem dat hy die woorde vergeet het. Dit gebeur, vergewe hom,” het een gebruiker op Twitter geskerts.

"Ek is baie teleurgesteld in #KurtDarren, want ek ken al die woorde van Kaptein,” het nog een getwiet. 

Kurt het die eerste sin van die Sesotho weergawe, "Morena boloka setjhaba sa heso", reggekry, maar hy kon nie verder byhou nie en die daaropvolgende sin (“O fedise dintwa le matshwenyego”) heeltemal weggelaat en dit eerder met die Zoeloe deel “Yizwa imithandazo, yethu” vervang. 

Dis nie die eerste keer dat ’n musikant die landslied verkeerd kry tydens ’n optrede nie. Ras Dumisani en Ard Matthews se onderskeie blapse is immers berug. 

In 2011 het Ard, die hoofsanger van die rockgroep Just Jinjer, die woorde vergeet van die landslied en toe boonop tussendeur begin lag, soveel so dat dit geklink het of hy vals sing toe die Springbok-groep vir die Wêreldbekertoernooi in Nieu-Seeland regstreeks aangekondig is. 

In 2009 het Ras Dumisani ook die nasionale lied verbrou met sy weergawe daarvan tydens die Springbokke se rugbytoets teen Frankryk in die Franse stad Toulouse. 

Dié reggae-sanger het wel in 2015 nog ’n kans gekry om die publiek se vertroue te wen toe die Gautengse radiostasie 702 hom nooi om die landslied regstreeks op die lug te sing. 

Hy het sy flater op "sabotasie" blameer, maar toe hy die saak probeer regstel het hy weer misluk. 

Suid-Afrika se nasionale lied, Nkosi Sikelel’ iAfrika, bevat vyf amptelike tale en is in 2017 deur The Economist as die beste landslied ter wêreld aangewys is.

Kurt wou by navraag nie kommentaar aan Huisgenoot lewer nie. 

Die sanger het wel tydens ’n gesprek met die radio-aanbieder Eusebius McKaiser op 702 voorgehou dat sy fout nie so groot is nie. 

"Ek is lief vir ons landslied, dis altyd 'n plesier om dit te sing, maar vanoggend het ek wakker geword en daar was 'n massiewe storm en dis so snaaks vir my. Ek bedoel, is dit regtig nuus?" 

"Ja, ek het die een lyn in die landslied opgemors, maar ek bedoel jy sing voor 20 000 studente by 'n Varsitybeker-eindstryd. Dis 'n heeltemal ander gevoel om dit by 'n toets (wedstryd) of 'n Super 15(-wedstryd) of wat ook al . . . Dis net malligheid."