Hildegardt Whites se man, die musikant Kuba Silkiewicz, het op Facebook kiekies van hul kleinman, Miles, gedeel. Die paartjie se eersteling is in April vanjaar gebore. Op een lê klein Miles snoesig langs ’n kat.

Talle mense het op die foto gereageer en vertel hoe kostelik die kleinman is. Sy pa het hierop geantwoord: "Dankie julle! Hy's my klein rockster."

Dis ook nie die eerste kiekie wat die trotse pa deel wat sy Facebook-pelle se harte laat vermurwe nie. 

Kuba het kort na hul seuntjie se geboorte op Facebook vertel hoe oulik klein Miles is. "Hy is die pragtigste ding wat ek al in my hele lewe gesien het," het hy geskryf by ’n foto van Miles se handjie wat syne vashou.

"Hy het komplikasies by geboorte gehad, maar hy word deur een van die beste pedriatiese spanne by een van die beste hospitale op die planeet versorg." 

Ons wonder in wie se voetspore Hilde se kleinding gaan volg. Musiek loop immers sterk deur sy are. Sy ma speel nie net toneel nie, sy hou ook haar lyf sangeres en het ook al haar eie werklikheidsreeks Hilde se Hartsklanke op VIA gehad.

Op die program het Hilde en haar span die Weskus en Noord-Kaap platgereis terwyl sy 13 liedjies in 30 dae opgeneem het. Klein Miles kuier al tot saam met sy ma in die ateljee.

Hildegardt het gestraal tydens haar swangerskap en ouerskap pas haar duidelik soos ’n handskoen. Sy het kort voor Miles se geboorte vertel hoe lekker hul geliefdes klein Miles met geskenke bederf. "Ons het so baie gekry van familie en vriende. Ons is omtrent geseën."

Ons kan nie wag om meer kiekies van haar skattige seuntjie te sien nie!