Nie net het Andries en sy gesin einde 2019 sak en pak na Austin in Texas getrek nie, maar hy dien al sowat ses maande as raadslid van die South African Chamber of Commerce USA.

Sy groot vriend, die voormalige munisipale bestuurder van Mbombela, Neil Diamond, is dié sakekamer se uitvoerende voorsitter.

Andries het die sakekamer se bekendstelling in September verlede jaar op Erfenisdag tydens ’n glansgeleentheid in Atlanta, Georgia, met skriflesing en gebed geopen.

SA Chamber USA launch function in Atlanta, GA was a great success followed by a Cocktail reception, South African style!

Posted by South African Chamber of Commerce USA on Thursday, 12 November 2020

Uitgesoekte Suid-Afrikaanse sakelui van oor Amerika heen het die geleentheid bygewoon.

Nomaindiya Mfeketo, Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, was ook genooi maar kon weens die covid-regulasies in die land nie daar wees nie. Sy het wel ’n beleefde video-boodskap gestuur wat gespeel is.

Andries het sy boodskap begin deur te sê dis vir hom ’n eer om deel van die verrigtinge te wees en dat hy verootmoedig is dat sy vriend, Neil, hom gevra het.

Hy sê hy wil die sakekamer ook na Texas neem sodat almal “vir die beste kan saamwerk.”

Andries, wat deesdae hoofprediker van die Rhythm Church in Austin is, het sy boodskap geopen met die bekende skriflesing uit Jeremia 29 vers 10 en 11, maar beklemtoon veral vers 11, wat lui: “Want Ek weet wat Ek vir julle beplan het,” sê die Here. “Ek beplan voorspoed vir julle, en nie teëspoed nie. Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting.”

Hy eindig met vers 12: “Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.”

Hy vertel dan met ’n Amerikaanse twang in sy stem dat, hoewel dit vir talle ’n gewilde en geliefde skriflesing is, hy altyd wanneer pastore die mooi stukkie lees vir hulle wil vra: “Vertél die storie! Vertel waaroor dit gaan!” want hy meen glo dat die konteks daaragter nog meer belangrik is.

Andries vertel dan die storie omdat dit “veral vir hulle in Amerika” van belang is.

Andries en sy vrou, Vikki. Foto: Facebook
Andries en sy vrou, Vikki. Foto: Facebook

Hy vertel Jeremia skryf ’n brief aan al die bannelinge van Jerusalem, Israel, wat in ballingskap in Babilon is. 

“Hulle het die oorlog verloor en Babel het die beste van die land gevat. Hulle het al die leiers, al die wetenskaplikes, al die vakmanne, al die beste mense van Israel na Babilon gevat en die res in Jerusalem agtergelaat, omdat hulle weet hulle sal nie in staat wees om ’n land weer op te bou en weer eendag terug te veg nie.

“So hulle het die elite van Israel weggevat en daar in Babilon skryf Jeremia ’n brief aan die mense weg van die huis en sê vir hulle: ‘julle sal voorspoed hê, al het julle die oorlog verloor en is julle in ballingskap en voel julle dit is nie my land hierdie nie, dit is nie my land nie, wat ook al, julle sal voorspoed hê. Dit is deel van God se plan, My plan vir julle.”

Andries Enslin. Foto: Lubabalo Lesolle
Andries Enslin. Foto: Lubabalo Lesolle

Andries meen die verhaal begin dus reeds in vers 4, maar vers 11 is egter net die "punchline".

Hy vertel hierdie is nou die storie van Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon en dat Jeremia die bannelinge maan om in die land waarin hulle hul bevind die beste van hul situasie te maak, dat hulle moet bou en voorspoedig moet wees deur huise te bou, tuine te plant en van die opbrengs daarvan te leef.

Dit is egter wanneer Andries die volgende deel lees dat hy emosioneel raak: “Trou, hê seuns en dogters en vind vroue en mans vir jul seuns en dogters sodat hulle sal trou en ook seuns en dogters in die wêreld sal bring sodat julle meer sal word, en nie minder nie.”

Die Enslin-gesin kerf nou vir hulle ’n nuwe lewe i
Die Enslin-gesin kerf nou vir hulle ’n nuwe lewe in Austin, Texas, uit waar hy einde 2019 die Rhythm Church gestig het.

Andries verduidelik dan in trane: “Ek kan nie dink dat my kinders gaan vroue en mans vind in hierdie land nie . . .”

Hy benadruk weer dat Jeremia se brief vir húlle geskryf is wat oorsee is.

“Maar die groot ding is: gaan en wees voorspoedig. Bou daardie land, koop huise, raak betrokke in die ekonomie, bid vir jou land.

“Ons het nodig om betrokke te wees om hierdie land te bou, nie net vir onsself en ons kinders nie. Julle weet, my hart is nog in Suid-Afrika, en wat ek daarmee bedoel is, ek het nog ’n kerk daar en ek wil nog steeds welsynwerk daar doen, ek wil steeds lewens daar verander en liefde wys, maar ek kan dit net doen as ek voorspoedig is hier. As ek my kop en hart uitsorteer en hiervan ’n sukses maak.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe