So het die BBC en ander Britse nuusmedia onlangs 'n nuwe gier opgesom wat in die afgelope maand of wat ontstaan het onder Engelse sokkergeesdriftiges, dit wil sê amper die ganse Engeland. Nie eens die voorste neigingsvoorspelers kon dit voorsien nie.

Die onderbaadjie? Kan jy nou meer . . .

Maar ja, Gareth, Engeland se nuwe sokker-Messias wat die Drie Leeus ná talle groot Wêreldbeker-teleurstellings nou tot in die halfeindronde gebrei het, het sodoende sommer ook 'n soort mode-ikoon geword.

Terwyl ’n mens rugbyafrigters byvoorbeeld hoogstens 'n sportbaadjie by wedstryde sal sien dra, indien nie net 'n langmouhemp nie, kan jy Engeland se nuwe helde-afrigter altyd deur 'n ring trek: Die afgelope weke in Rusland het ons hom pal in sy onderbaadjie, snyershemp en das gesien.

So word die heerlike meme #waistcoatwednesday toe ook nou voor Engeland se groot kragmeting teen Kroasië vanaand (Woensdag) aan Gareth opgedra.

Ondersteuners van Engeland dos hulle links en regs uit in daardie ietwat ongemaklik kledingstuk wat vir baie mense nog iets is wat eintlik in die 1980’s hoort . . . en straks te warm vir die Europese somer is.

Gareth het dit egter nou amper in 'n nasionale kleinood omskep nadat hy net die derde afrigter in die geskiedenis geword het wat Engeland so ver in die Wêreldbeker kon laat vorder.

Danksy die innemende Engelsman, wat self op sy dag in 57 wedstryde vir sy land uitgedraf het, se sukses met 'n span van wie niemand eintlik soveel verwag het nie, hou aanhangers hom fyn dop . . . insluitend sy kleresmaak.

Trouens, die onderbaadjie het danksy Gareth ook blykbaar sy terugkeer in Britse winkels begin maak. Die kettingwinkelgroep Marks & Spencer se verkope daarvan het byvoorbeeld met amper 40% toegeneem.

Die klerehandelaar TM Lewin het getwiet Gareth en Engeland se nuwe "gelukbringer" (die onderbaadjie) het hul verkope van die kledingstuk "deur die stadiondak laat skiet".

Selfs eBay meld dat soektogte na 'onderbaadjies' verlede naweek met ’n kwart toegeneem het.

Gareth se geliefde onderbaadjie help intussen ook ’n goeie saak bevorder: Die bloedkanker-liefdadigheidsorganisasie Bloodwise gebruik dit nou ook as tema in ’n geldinsamelingsveldtog.

Engeland en Kroasië meet vanaand 20:00 SA tyd kragte in wat beloof om ‘n spannende Wêreldbekersokker-halfeindstryd te wees.

Hier is intussen nog 'n paar voorbeelde van hoe ver die euforiese Engelse #waistcoatwednesday gevoer het:

Bronne: Facebook, Twitter, BBC, mirror.co.uk