Hulle is die dapperste, die magtigste, die vinnigste, die slimste en die sterkste. Hulle kan enige boef aanvat en wen, en geen uitdaging is te groot om te oorkom nie.

Superhelde speel al jare baas op die grootskerm én die kassie, maar vir die Amerikaanse fotograaf Josh Rossi is hulle nie die eintlike helde nie. Josh se helde is kinders wat teen degenerasiesiektes veg en op skool afgeknou word.

Toe besluit hy om te wys hoe hulle as superhelde lyk en sy projek het meer as 100 miljoen trefslae op YouTube. “Baie van ons wil graag in die regte lewe ’n superheld wees,” sê hy op sy blog by fulltimephotographer.com.

“Ons wil kan vlieg soos Superman, so blitsig wees soos The Flash en so sterk soos Wonder Woman."

“Maar party mense het reeds sulke superkragte. Ek het ’n ruk gelede na die regte Justice League gaan soek en hulle afgeneem. Die kinders wat ek en my span gekies het, is al deur hel en hulle het regtig bomenslike krag.”

Josh het met die hulp van sy vrou, Roxana, ses siek of gestremde kinders gekies om Justice League-superhelde te wees. (Justice League is die 2017-fliek waarin net superhelde speel.)

“Roxana, wat die fotosessies georganiseer het, het weke lank gesoek tot sy hulle gekry het.” Tydens die soektog het hulle besef baie kinders stry nie net teen ernstige gesondheidsprobleme nie; van hulle word ook afgeknou.

Toe pak Josh ’n tweede projek aan wat deur die jongste Avengers-fliek, Infinity War, geïnspireer is en dié keer het hy oorlog teen afknouery verklaar.

Die foto’s beeld dié spesiale kinders uit as die superhelde wat hulle in die werklikheid is.

“Ek en Roxana het aan die begin nie die hartverskeurende besonderhede van elke kind geken nie."

“Ons het nie geweet Jackson Sommers leef sonder 35% van sy brein of dat kinders hom by die skool platgedruk en op hom gespoeg het nie.

Ons het nie geweet Sydney Gerardis het selfdood oorweeg omdat die kinders gesê het hulle gaan partytjie hou as sy doodgaan nie. “Ons het besef ons moet die kinders help om teen afknouery op te staan.”

‘Ek het na die regte Justice League gaan soek en hulle afgeneem. Die kinders wat ek en my span gekies het, het regtig bomenslike krag’

Justice League

Kayden Kinckle, Cyborg

Kayden Kinckle is in Cyborg omskep. Foto's: Josh Rossi photography en Twitter/@JoshRossiphoto

Dié seuntjie is gebore met ’n toestand wat veroorsaak het dat sy organe buite sy naeltjie ontwikkel.

Toe Kayden ’n jaar oud was, het hy ’n ernstige infeksie opgedoen wat tot in sy bene versprei het.

Sy ma moes toe die moeilike besluit neem om sy bene te laat amputeer om sy lewe te red. Josh het Kayden (5) soos Cyborg laat lyk, want “in sy jonger jare was Cyborg ’n gesonde seun tot hy in ’n verskriklike ongeluk was.

“Sy pa het hom aan die lewe gehou deur vir hom robotledemate te gee”.

Mataese Manuma, Aquaman

Mataese Manuma as Aquaman. Foto: Josh Rossi photography en Twitter/@JoshRossiphoto

Dié tweejarige ly aan ’n seldsame vorm van leukemie en is van ’n chemopasiëntjie in die magtige Aquaman omskep.

Josh het hom ’n reus genoem omdat hy so sterk was ná sy laaste ronde chemoterapie.

“Mataese is, nes Aquaman in die fliek, van Polinesië afkomstig; dus het ek gedink dit sal perfek wees om hom in die god van water te verander,” sê Josh.

Teagan Pettit, Superman

Teagan as Superman. Foto's: Josh Rossi photography en Twitter/@JoshRossiphoto

Die negejarige Teagan is met ’n halwe hart gebore. Hy het al drie opehartoperasies ondergaan en is nou op ’n oorplantingswaglys.

“Superman word swak sodra kriptoniet naby hom is; Teagan se liggaam kan nie sy temperatuur beheer nie,” sê Josh.

“Sy ma sê elke dag is ’n seëning. “Teagan se gesondheid kan op enige oomblik agteruitgaan, maar hy beur net vorentoe. Superman en Teagan het albei ’n hart van staal.”

Sofie Loftus, Wonder Woman

Sofie Loftus is in Wonder Woman omskep. Foto's: Josh Rossi photography en Twitter/@JoshRossiphoto

Die driejarige Sofie, by wie ’n seldsame vorm van oogkanker gediagnoseer is, is in Wonder Woman omskep.

Net voor die fotosessie het sy juis weer bestralingsterapie ondergaan, maar sy het dapper vir die kamera poseer, vertel Josh.

“Sy is ’n ware vegter en pas perfek in die Wonder Woman-rol.” “Vandat Sofie met behandeling begin het (in Januarie 2017) het sy nog nooit gekla nie,” het haar pa, Andrew, aan ABC News gesê.

“Sy was nog heeltyd positief, en toe sy haarself as Wonder Woman sien, was dit wonderlik om haar gesiggie te sien ophelder.”

Simon Fulmer, Batman

Simon Fulmer as Batman. Foto's: Josh Rossi photography en Twitter/@JoshRossiphoto

Simon Fulmer (5) ly aan neuroblastoom, ’n kanker van die senuweeweefsel.

“Simon is ’n baie dapper kind en het alles wat al oor sy pad gekom het soos ’n superheld hanteer – ’n regte Batman,” sê Josh.

Avengers: Infinity War

Foto: Josh Rossi photography

Jackson Bezzant, Captain America

Jackson Bezzant as Captain America. Foto's: Josh Rossi photography en Twitter/@JoshRossiphoto

Die agtjarige Jackson ly aan Treacher Collins-sindroom, ’n seldsame gesigtoestand wat sy gelaatstrekke verwring.

Sy klasmaats het hom al ’n monster en ’n freak genoem. Dit het so erg geword, hy het sy ouers ’n masker gevra.

“Toe Jackson Captain America was, het sy oë uitdagend geskitter en hy was gereed om teen sy grootste vyand – afknouery – te baklei,” sê Josh.

Morisi Elakano, Black Panther

Morisi Elakano as Black Panther. Foto: Josh Rossi photography

Dié 10-jarige is ’n vlugteling uit Tanzanië. Hy woon saam met sy ouers in Utah, waar hy vreeslik op skool gespot is vanweë sy aksent.

Josh het Morisi verander in een van die slimste en vinnigste superhelde van almal: Black Panther.

‘Simon wil presies weet wat aangaan en hy weet wanneer ons iets beter laat klink as wat dit is’ – Simon se ma, Trisha

Zaiden Stolrow, The Flash 

Zaiden Stolrow is in The Flash omskep. Foto: Josh Rossi photography

Zaiden (7) het kwaai AGHS en hope energie en is dus in The Flash omskep. “Miskien sal die kinders hom nie net na hul partytjies nooi nie; hulle sal hom dalk ook vra om die pak saam te bring,” sê Josh.

Jackson Sommers, Doctor Strange

Jackson Sommers as Doctor Strange. Foto: Josh Rossi photography

Jackson (12) is gebore met ernstige brein- skade, wat probleme met sy spraak en beweeglikheid veroorsaak.

Kinders het nog altyd sy lewe vergal, maar die fotosessie het hom bemagtig. “Ek het gevoel asof ek nie meer gestrem is nie,” het hy aan CNN gesê.

“Ek het gevoel ek kan terugbaklei.”

‘Jackson werk hard om sy lyf dinge te laat doen wat sommige gesê het is onmoontlik – nes Doctor Strange’

Cole Helton, Vision

Cole Helton as Vision. Foto's: Josh Rossi photography en Twitter/@JoshRossiphoto

Cole is afgeknou omdat hy gendervloeibaar is; dus het Josh hom in Vision omskep.

Nes Cole was Vision se identiteit onseker toe hy geskep is, maar net tot hy sy supermagte ontdek het – bonatuurlike reflekse, spoed, ratsheid en krag.

“Vision, een van die sterkste Avengers, is enig in sy soort en gee nie om wat ander van hom dink nie,” sê Josh.

Sydney Gerardis, Gamora

Sydney Gerardis as Gamora. Foto's: Josh Rossi photography en Twitter/@JoshRossiphoto

Dié tiener het jare lank aan angs en depressie gely.

“Party van haar vriende het haar begin beledig en ignoreer,” het haar ma aan Josh vertel.

“Eendag het sy hulle gevra wat hulle sou doen as sy doodgaan. Hulle het gesê hulle sou bly wees en ’n partytjie hou.”

Josh het haar verander in Gamora, wat bomenslik rats is en baie vinnig van enigiets kan herstel.

Braiden Ellerman, Hulk

Braiden Ellerman as Hulk. Foto: Josh Rossi photography en Twitter/@JoshRossiphoto

Kinders spot Braiden altyd oor sy grootte.

“Hy was nog altyd groot gebou,” het sy ma aan Josh gesê. “Kinders is wreed en Braiden het al hoeveel keer in trane by die huis gekom.”

Maar in die Hulk se groot groen pak lyk Braiden soos iemand met wie jy nie sommer sal mors nie. 

Bronne: CNN.com, Fulltimephotographer.com, ABCnews.go.com