Die Blitsbok en voormalige Stormers-rugbyspeler Cheslin Kolbe en die spoedvraat Wayde van Niekerk, sy neef, is nie al sportmanne in die familie wat die koppe laat draai met hul talent nie. Die twee sporthelde se neef Ravin Kolbe se spiere laat net so die oë rek.

Die 24-jarige Ravin, van Kraaifontein buite Kaapstad, is ’n liggaamsbouer en fiksheidsatleet. Hy is die afgelope twee jaar ’n leefstylambassadeur vir USN.

Monday motivation: Work hard and be Alpha??. Another Masterpiece by @apasionese #AlphaArmy #USNelite #RSFT #teamEU #apasionese #momsfoodsa #fitlife

A post shared by Ravin Kolbe (@ravinkolbe) on

“My ma is Cheslin se pa se suster. Ons is neefs. En ons ouers is niggies en neefs van Wayde se ouers,” vertel Ravin.

Hy was self op sy dag ’n kranige atleet. “Ek het as 100 m-atleet en rugbyspeler begin, maar liggaamsbou en fiksheid begin doen omdat ek die perfekte simmetriese liggaamsbou wil ontwikkel,” sê hy.

Hy het hom op 17 op liggaamsbou begin toespits, verklap Ravin, wat tans aan die Universiteit van Wes-Kaapland sportwetenskap swot.

Excuses will never give you results #teamUSN #AlphaArmy # #PCAathlete #noexcuses

A post shared by Ravin Kolbe (@ravinkolbe) on

Sy daaglikse eetplan bestaan uit ses maaltye. Vir sy eerste maaltyd eet hy 70 g hawermout of ’n porsie USN-100%-suiwer-weiproteïen of sewe eierwitte. Sy tweede maaltyd is 200 g kalkoen of sewe eierwitte, met 200 g groen groente of pampoen. Ravin se laaste maaltyd vir die dag is 10 eierwitte met 150 g wit basmati-rys en 200 g groen groente. Slaai is opsioneel.

En wat sy oefenroetine betref? “Ek het twee oefensessies per dag,” vertel hy. Die eerste een is ’n kardio-sessie om vyfuur soggens op ’n leë maag. Dié oefensessie duur 30 tot 45 minute.

“Die ander een later die dag is ’n gewigoefensessie van 60 minute, gevolg deur ’n kardio-sessie van 10 minute om af te koel.”

As kind was hy redelik fiks. “Ek en my nefies het altyd geoefen of vir die pret sportaktiwiteite gedoen.”

Sy familie staan bankvas agter hom. “My ma, Rachel Adams, ondersteun my altyd in my fiksheidsregime en my broer, Romario Adams, is ook goed op pad wat fiksheid betref,” vertel Ravin, wat in 2011 aan die Hoërskool Brackenfell gematrikuleer het.

En sy bekende neefs? “Ek het kontak met Wayde, maar meer met Cheslin omdat ons saam grootgeword het,” vertel Ravin.

Cheslin (23) draf deesdae vir die Franse klub Toulouse uit. “Ons het tot vandag nog baie nou kontak.”

En hulle is duidelik mekaar se grootste ondersteuners.

En jammer, meisies. Die spiertier is reeds van die mark af. Ravin en Lize Carstens (21) is al ses jaar ’n paartjie.

“Sy is ’n derdejaaronderwysstudent aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie op Wellington,” vertel hy.

Hulle motiveer mekaar om gesond en fiks te bly, vertel hy. En hoe anders? Daai blokkiesmaag verg harde werk!

When you love what you have, you have everything you need. My day one @lize.carstens

A post shared by Ravin Kolbe (@ravinkolbe) on