Wel, dan moet jy alles weet omtrent ’n Australiese boer se nuutste uitvindsel: die Avozilla.

Dié reuse-avokadopeer weeg 2 kg, is amper so groot soos ’n mens se gesig en een vrug lewer genoeg avokado vir tot 18 snye brood. 

Avozilla’s word tans in Australiese winkels teen sowat R120 verkoop.

Oorsprong 

Die Groves-familieplaas in Australië het dit reggekry om dié enorme advokadopeer, wat boonop nog watertandlekker is, te kultiveer.

Heelwat pogings is al aangewend om groter avokadopere te kweek, maar die smaak daarvan was nie heeltemal reg nie. Maar die Avozilla smaak glo heerlik.

"Gewoonlik proe groot vrugte en groente nie so lekker soos die kleiner weergawe daarvan nie, maar die Avozilla is regtig heerlik," meen Dave Groves, een van die boere op die plaas. 

Gebruikers sê die Avozilla smeer ook baie makliker en is sagter as gewone avokadopere. 

Die Groves-familie kweek sedert 1957 eksotiese en tropiese vrugte in Queensland, Australië. Nou is hulle die eerste boerdery wat dié massiewe (en smaaklike) avokadopeer na die land se winkelrakke bring.

Die verskeidenheid avokadopere wat gebruik is om die Avozilla te kweek, kom wel oorspronklik van Suid-Afrika. 

"Daar is ’n kwekery waar ons verskillende bome aankoop. Ons het 10 jaar gelede heelwat avokadobome aangeplant en die kwekery het toe vir ons een boom gegee om as ’n proeflopie te gebruik," vertel boer Ian Groves.


"Na sowat vier of vyf jaar het ons verskillende soorte van die avokadopere probeer. Ons het toe ongeveer 400 bome aangeplant en na vyf jaar het ons die eerste keer die Avozilla gekry."

Die Avozilla is geensins geneties gemanipuleer nie, maar is eintlik ’n kruis tussen twee soorte avokado’s – die groot waterige Wes-Indiese avokadopeer en die kleiner, botteragtige avokadopere wat in Guatemala, in Sentraal-Amerika, voorkom. 

Kan ek ’n Avozilla koop?

Hoewel die Avozilla reeds groot opgewondenheid onder liefhebbers veroorsaak het, sal dit (vir eers) moeilik wees om in die hande te kry. 

Die Groves se familieplaas het slegs 400 Avozilla-bome en volgens Dave vervaardig die bome heelwat minder avokadopere teenoor ander groente en vrugte wat hy al in die verlede geplant het.

’n Bykomende 2 000 bome is reeds geplant, maar dit het nog niks opgelewer nie. 

Dis ook nie so maklik om ’n Avozilla-boer te word nie. Voor boere kan plant, moet hulle eers tantieme betaal en toestemming van die Suid-Afrikaanse maatskappy kry wat die regte daarvan voorbehou. 

Winkels in Brisbane, Sydney, Adelaide en Perth sal die eerste wees wat dié reusevrug in Australië op hulle rakke sal hê.

Bronne: The South African; ABC News