Dramatiese beelde van die naelrit Woensdag in die Tour de Pologne in Pole se eerste skof wys hoe die jong Fabio Jakobsen (23) in die afskorting langs die pad gedruk word deur sy mede-burger Dylan Groenewegen (27) in die laaste paar meters van die wedren.

Fabio Jakobsen
Die ongeluk het meters voor eindstreep op die eerste dag van die Tour de Pologne in Pole gebeur. Foto: Instagram, La Ruleta Deportiva

“Sy toestand is baie ernstig. Sy lewe is in gevaar,” sê Barbara Jerschina, die dokter by die wedren. “Ongelukkig het hy ernstige beserings aan sy kop en brein opgedoen. Hy het bloed verloor. Hy is baie sterk. Ek hoop hy sal oorleef.” 

’n Beampte en vier ander fietsryers is in die ongeluk beseer.

Dylan is later uit die wedren gediskwalifiseer en is skerp gekritiseer omdat hy nie in sy baan gebly het nie.

Jumbo-Visma, sy span, het op Twitter geskryf “ongelukke soos hierdie moenie gebeur nie” en het verskoning gevra. Hulle sal interne gesprekke voer voor hulle nog kommentaar lewer. 

Fabio Jakobsen
Die ongeluk meters voor eindstreep. Foto: Instagram, La Ruleta Deportiva

Uiteraard was daar ’n groot reaksie vanuit Fabio se span, Deceuninck-QuickStep. Die bestuurder, Patrick Lefevere, het gesê Dylan moet tronk toe gaan vir die voorval.

Die Union Cycliste Internationale het die voorval ten sterkste veroordeel en gevra dat die saak onmiddellik na die dissiplinêre kommissie verwys word.

Donderdagoggend het Deceuninck-QuickStep in ’n verklaring gesê dat Fabio deur die nag ’n operasie ondergaan het en dat hy tans stabiel is. Dokters sal hom later vandag uit 'n medies geïnduseerde koma probeer haal. 

Fabio Jakobsen
Die ongeluk meters voor eindstreep op die eerste dag van die Tour de Pologne in Pole. Foto: Instagram, La Ruleta Deportiva

Vroeër het hulle gesê voorlopige diagnostiese toetse wys die brein en ruggraat is nie beseer nie, maar omdat hy veelvuldige ernstige beserings opgedoen het, is hy in 'n koma geplaas.

 Hy het verskeie beserings aan sy gesig opgedoen, insluitend sy oogkas en kake, asook houe teen sy bors en kop gekry.

Bronne: Eurosport.com,Cyclingnews.com