Die Afrikaanse rymkletser Simon Witbooi, beter bekend as HemelBesem, het vir die eerste keer 'n foto van sy dogterjie, Engel, in die sosiale media gedeel.

"Het 'n Engel al met jou gesmile?" het hy by die foto geskryf.

Hemelbesem se dogtertjie, Engel. Foto: Instagram

Engel is Desember 2017 gebore en het die wêreld van haar pa en ma, die hiphop-kunstenaar Claudia Witbooi of YOMA, kom verander.

So geraak was hulle deur haar koms dat hulle 'n album, getiteld Moedertaal, geskep het om haar koms te vier, het hulle aan die tydskrif Kuier vertel. Dis ook in dié tydskrif dat hulle die eerste keer haar naam aan die wêreld onthul het.

Die album word op 21 Februarie bekendgestel wanneer Internasionale Moedertaaldag gevier word.

Hulle is glo ook van plan om haar Afrikaans groot te maak omdat hulle glo daar is 'n wonderlike toekoms vir die taal.

HemelBesem het reeds twee dogters en dit lyk of vaderskap sommer tweede natuur vir hom is.

Hy en Yoma het in Mei 2016 trou beloof aan mekaar en hulle was baie opgewonde om die kleinding in hul gesin te verwelkom.

Yoma en klein Engel lyk amper op 'n druppel na mekaar.

Sy is voorwaar te pragtig vir woorde!