Cassey bly nou in Brakpan, Gauteng, maar het al in haar kleuterjare op die Noord-Kaapse dorpie Hartswater graag gesing. Sy het Afrikaans grootgeword, maar praat ook Zoeloe, Xhosa, Sepedi, Sesotho, Engels, Tsonga, Setswana en ’n bietjie Venda.

Hoe het haar sangloopbaan begin?

“Ek was eendag besig om die huis skoon te maak. My man, Rudolf Schoeman, het vir my ’n Afrikaanse CD gegee en terwyl ek skoonmaak, het ek die liedjies saamgesing,” sê sy.

“Rudolf het my gestop en gesê 'Besef jy jy kan sing?' Ek kon hom mos nou nie regtig glo nie. Daardie Sondag het hy my na ’n karaoke-kroeg toe gevat en ek het dié dag gewen.”

Sy vertel die sangvonkie in haar het daardie dag ’n vuur geword. 

“Ek het daarna gereeld voor mense opgetree en gesing en in 2014 het ek die Klipdrift Voices gewen. Nou sing ek orals.”

Cassey het al twee CD’s gemaak, die eerste een was Sê my Bokka en die tweede een Malome O Kae, ’n Zoeloe-album. As jy laasgenoemde in Afrikaans vertaal, beteken dit "Oom, waar is jy? Ek is besig om te trou".

“Ek is besig om myself klavier te leer speel, maar ek is nog glad nie ’n pianis nie. Daarom gebruik ek eerder back tracks by vertonings,” sê sy.

Cassey se genre strek wyd. Van country- tot rockmusiek. “Ek skryf ook self my liedjies, soos met Sê my Bokka,” vertel sy.

Haar volgende vertoning is Sondagmiddag by Woody’s Pub and Grill op Hartebeespoort.

“Ek eet, ek slaap, ek leef musiek. Musiek is al wat ek wil doen,” sê sy.

Kyk hier na een van Cassey se musiekvideo's: