Hy het daarvan gedroom om die weelderigste hotel ter wêreld te bou, maar een wat ook ’n bekostigbare opsie vir reisigers sou wees. En nou, ná 11 jaar se bouwerk teen 'n koste van sowat 13 miljard, het Nguyen Huu Duong, 'n Viëtnamese hoteleienaar, sy byna onmoontlike droom waar gemaak.

In die stad Hanoi het sy spoghotel van 25 verdiepings verrys en onlangs sy deure geopen vir gaste wat graag soos 'n Midas wil voel. Amper alles by die Dolce by Wyndham Hanoi Golden Lake-hotel is verguld van die baddens en die krane tot die eetgerei in die restaurante en die oorloopswembad op die dak.

View this post on Instagram

A post shared by Dolce Hanoi Golden Lake Hotel (@dolcehanoi)

EEN TON GOUD

Die hotel het ook 'n goue voorportaal, en die buitekant van die gebou is met 'n ton goud oortrek, berig The Sun. Gaste kan enigiets van R3 000 per nag vir ’n gewone kamer tot R15 000 per nag vir ’n luukse suite opdok. Daar is ook woonstelle te huur teen R99 000 per vierkante meter.

View this post on Instagram

A post shared by Dolce Hanoi Golden Lake Hotel (@dolcehanoi)

ENIG IN SY SOORT

“Op die oomblik is daar geen ander hotel soos hierdie een in die wêreld nie,” het Nguyen teenoor die Daily Mail gespog.

“Ons groep het ’n fabriek wat dinge kan verguld; daarom is die koste van ons toerusting en meubels hier taamlik laag,” sê hy.

IDEAAL VIR SELFIES

Verskeie gaste het al op verskillende reiswebtuistes oor hul verblyf kommentaar gelewer.   

“Uitsonderlike binneontwerp, want die hotel is ten volle met 24K GOUD oorgeblaas!” skryf een op Tripadvisor.

En as jy in die sosiale media met jou reiservarings wil spog, is dit die ideale hotel vir selfies neem, soos uit nog 'n inskrywing blyk: “Modern, kontemporêr en die hotel het heelwat Instagram-waardige plekke in elke hoek vir ons om foto’s te neem, veral die goue oorloopswembad op die dak."

Bronne: The Sun, GQ, Insider, Daily Mail 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe