Daar is vanjaar ’n verbysterende getal van 20 tweelinge in die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp.

“Hulle lyk darem nie identies nie; dus is dit nie so moeilik om hulle uitmekaar te ken nie,” vertel Sonet Guy, bemarkingsbestuurder van Nories, soos die leerders hulself noem.

Dit wil in hierdie stadium lyk asof dit moontlik die grootste oes van tweelinge in die land in een skool is. Voorheen is berig daar is vier stelle tweelinge in gr. 1 in die Laerskool Paarl Gimnasium en Laerskool Newton se kleuterskoolklassie in Kimberley, Noord-Kaap, het drie stelle tweelinge en een drieling.

tweelinge,kleuterskool,Kimberley
Tweelinge vanjaar in die Laerskool Newton se kleuterskoolklassie in Kimberley, Noord-Kaap. Foto: Argiewe
tweelinge,gr. 1,Laerskool Paarl Gimnasium
Die Laerskool Paarl Gimnasium se vier stelle tweelinge wat vanjaar gr. 1 daar begin het. Foto: Argiewe

In die Guinness World Records is die meeste tweelinge by een skool as die 44 by die New Trier High School in Chicago aangeteken. 

Marietjie Bothma, ’n dieetkundige en ma van een van die stelle tweelinge, Maya en Leya, in Noordheuwel vertel. “Dit voel soms vreemd tussen al die baie tweelinge. Mense dink hul sien dubbel.

“Leya het nou die dag agter ’n meisie gestaan wat na Maya gewys en gesê het: Hoekom staan Leya buite die klas? Toe sê Leya ek is hier en die meisie skrik groot.

“Leya se klas se kinders het al aan Maya se baadjie getrek en gesê: Leya, jy gaan laat wees!

tweelinge,Noordheuwel,Bothma
Die Krugersdorp-tweeling Leya (links) en Maya Bothma. Foto: Jaco Bothma/ Empire Photography

“Hul maats ken hulle goed en hul persoonlikhede verskil baie. Hulle is beste maats en veral met al die vreemde, nuwe dinge van gr. 8 en hoërskool was dit lekker vir hulle om hul bestie heeltyd saam met jou te hê,” vertel Marietjie.

“Daar is altyd iemand wat jou belange op die hart dra en deur dieselfde dinge as jy gaan.”

Wat sleg is van ’n tweeling wees, is dat mense jou heeltyd vergelyk, vertel Maya.

“En as hulle heeltyd probeer om ons uit te ken, laat dit 'n mens voel jy is nie soos ’n individu nie,” voeg Maya by.

Leya stem saam: “Dis nie lekker as mense jou heeltyd met mekaar vergelyk nie: O, so jy die skamer een, of die slimmer een . . .”

Maar hulle sal hul tweemanskap vir niks verruil nie.

Ekstra bronne: netwerk24.com, abcnews.go.com