Die dam was nog onder konstruksie en sou later vanjaar klaar gebou wees. In hierdie stadium is dit nog nie seker waarom die damwal gebreek het nie, maar die ramp het tot kitsvloede gelei wat wyd verwoesting gesaai het.

Ses dorpe wat in die pad van die malende watermassa is het groot skade gely en in sommige gevalle kan bloot net die dakke van ’n paar geboue bó die watervlak gesien word.

Daar is na beraming ongeveer 5 miljard kubieke meter vrygestel toe die dam meegegee het. Verskeie video's, wat die skrikwekkende realiteit van die ramp uitbeeld, is deur die nuusdiens ABC Laos op Facebook gedeel.

Die dam, wat oor 'n kapasiteit van 410 megawatt sou beskik, is ’n gesamentlike projek wat deur verskeie maatskappye van Suid-Korea en Laos ontwikkel is.

Konstruksie van die dam het in 2013 begin en dit sou na verwagting teen die einde van 2018 voltooi wees. Die dam sou ’n welkome inkomste vir Laos meegebring het omdat 90% van die energie wat hierdeur opgewek is, na Thailand uitgevoer sou word.

Omgewingsbewustes het glo verskeie kere hul kommer uitgespreek oor die regering se planne om enorme damme in die Mekongrivier te bou om die land in ’n hidroëlektriese kern vir Asië te omskep.

Hulle bevraagteken die uitwerking van al die damme op die rivier én die plaaslike ondernemings wat van die rivier afhanklik is.

Laos beskik reeds oor 39 hidroëlektriese kragaanlegte en 53 word nog beplan of is reeds gedeeltelik gebou.

Bronne: independent.co.uk, theguardian.com, bbc.com, aljazeera.com