Dit is die sanger Bobby van Jaarsveld soos jy hom nog nooit gesien het nie. Smeulend en sexy.

Met sy mussie op sy kop, sy kuif wat so oor sy voorkop hang, daardie oë wat lyk asof hy van ’n verrassing weet waarvan jy nog gaan hoor. Sy kaal bolyf en gespierde arms is genoeg om enigiemand bewerig in die knieë te maak.

Foto: Louis Daniel Botha
Foto: Louis Daniel Botha
Foto: Louis Daniel Botha
Foto: Louis Daniel Botha
Foto: Louis Daniel Botha

Maar moenie vir ’n oomblik dink die sanger van ’n Vrou Wil Dit Hoor dink hy is sexy nie. Nee, daarvoor is hy heeltemal te beskeie.

“Lyk ek regtig goed? Baie dankie! Ek voel nie altyd so nie,” sê Bobby (30) in ’n e-posonderhoud vanuit die Maledive. Hy en sy ewe sexy vrou, Annatjie (30), is op ’n welverdiende vakansie in dié idilliese eilandparadys.

Dit is soos ’n tweede wittebrood waar hulle tuisgaan in ’n watervilla op ’n romantiese eiland met die see op hul voorstoep. Hul kroos, Sion (6), Leben (4) en Armani (1), bly tuis en kuier alte lekker by hul twee oumas, Ronel Brink en Marina Rheeders.

Lyk ek regtig goed? Baie dankie! Ek voel nie altyd so nie.

Voor die twee weg is, is Bobby se lieflike lyf in Pretoria vasgevang deur die fotograaf Louis Daniel Botha.

“Ek het Bobby se fotosessie in swart-wit gedoen, want ek het dit baie rou probeer hou en nie te glamorous nie.

“Ek wou sy ware beeld wys, sy sensuele kant. Ek wil hê mense moet die mens agter die kunstenaar sien,” sê Louis Daniel.

En dit is so reg in Bobby se kraal.

Gemaklik in sy lyf

“Nee, ek sien myself nie as sexy nie,” sê Bobby. “Dis weird. Ek kyk regtig nie op so ’n manier na myself nie.”

Wat hy sien wanneer hy na homself kyk, is “ ’n man vol foute, met sy eie reis, maar tog iemand met baie hoop, potensiaal en liefde vir almal.

“Ek dink ek is gemaklik in my eie lyf. Dit is een van die voordele van ouer word. “ ’n Mens maak vrede met jou foute, en selfs jou onvolmaakthede word volmaak.”

Oud? Op 30? Nee wat, beslis nie oud nie, nie koud nie; wanneer Bobby sy hemp laat waai, laat hy die koorspenne gevaarlik hoog opskiet.

Bobby se 'mens'

Maar daar is net een vrou oor wie se koors hy omgee.

Dis Annatjie, sy skoolliefde met wie hy al ses jaar getroud is, die ma van sy kinders, die gom wat sy gesin aanmekaarhou, die een wat hom steun, altyd daar is vir hom, hom raad gee “wat ek nie altyd wil hoor nie” en wat hy met sy hele lewe vertrou.

Maar die meeste van alles is Annatjie vir Bobby “my mens”.

“ ’n Vrou bring altyd ’n man se sagter kant uit, en daarvoor is ek dankbaar. Sy is die beste mens wat ek ken,” sê Bobby. “Ek kan lekker saam met haar lag. Ons het ’n baie droë humorsin wat net sekere mense verstaan. Maar ons verstaan mekaar.

“Soos in enige huwelik beleef ons ook moeilike tye, maar solank ons nooit moed verloor nie, is alles reg.

“Ek weet sy is die mens wat vir my gemaak is en ek vir haar, so ons sal staande bly. Ons is een.

“Ek het haar werklik lief, en daar is geen ander mens saam met wie ek liewer wil wees nie.”

Annatjie is die een wat stabiliteit in sy baie besige lewe bring, sê Bobby.

Dié man se dagboek is baie vol te midde van sy singery, sakeondernemings, aanbiederswerk in die reeks The Voice, ’n nuwe televisiereeks en die volgende seisoen van In Jou Skoene, die VIA- TV-program waarin hy saam met sy suster, Karlien, optree.

Dan is hy nog besig met sy nuwe album wat in Maart volgende jaar bekendgestel word. En in dié besige lewe is Annatjie en hul drie kinders vir hom die belangrikste.

Die kleinspan

Oor die kinders se interessante name vertel Bobby: “Sion beteken om jou hoogste roeping te bereik, Leben om die lewe in oorvloed en glorie te lei en Armani om ’n vloek in ’n seën te verander.

“ ’n Gesin is die belangrikste van alles. Daarsonder sou ek myself lankal verloor en my roeping misgeloop het; as pa vir my kinders, ’n man vir my vrou en ’n mens wat vir geregtigheid veg.

“My gesin gee my lewe betekenis. Hulle ken my die beste van almal. Dis belangrik om nie net daar buite ’n held te wees nie; jy moet vir jou eie gesin in jou eie huis ook die held wees.”

Sion gaan volgende jaar gr. 1 toe, en Armani babbel al. Bobby vertel trots haar eerste woord was “pappa”.

“Sy lê nou nog en hou my vas in die aand wanneer ek slaap,” vertel die trotse pa.

“Ja, sy slaap nog by ons in die bed. “Die seuns is rof. Hulle wil stoei en bal skop en hardloop. Armani kan ure in die tuin loop en blommetjies pluk en voëltjies kyk.”

Ná twee seuns voel hy bevoorreg om ook ’n dogtertjie te kan hê.

“Ek kan my lewe nie vir een oomblik sonder haar indink nie.

“Ek dink sy het my hart ook kom sag maak. My kinders het my weer kom herinner wat dit was om ’n kind te wees en soos ’n kind met ’n opregte hart te glo.

“Ons is so geneig om ingesluk te word deur die wêreld, verantwoordelikhede, werk, sosiale media en geldmag dat jy iets van God begin miskyk en verloor.

“Ek glo kinders is deel van God se plan om ons te herinner waaroor alles eintlik moet gaan. Hulle beteken vir my geluk; nie net geluk op Instagram-foto’s nie, maar werklike, opregte geluk.”

Struikelblokke

Toe ’n paar struikelblokke vanjaar oor sy pad kom lê, het dié lewensingesteldheid die sanger goed te staan gekom. Een van sy grootste uitdagings was toe hy die derde keer in twee jaar ’n operasie aan sy stembande moes ondergaan.

Die eerste keer was weke voor Armani se geboorte. Die tweede was vroeër vanjaar en die laaste een verlede maand. Hy was twee uur lank in die operasieteater. Bobby se ma, Ronel, het vroeër aan Huisgenoot gesê Bobby sou vyf tot ses weke ná die operasie geen optredes kon doen nie.

Hy moes ook stemrehabilitasie ondergaan.

“Ek het komplikasies gehad met my stembande, maar dit is nou opgelos,” sê Bobby. “Ek het nog nooit so baie gebid nie. Ek is nou in ’n herstelproses, en God is in beheer.”

It's Time... (The before photo)

A post shared by Bobby Van Jaarsveld (@bobbyvanjaarsveld) on

Die een ding wat hy uit dié teëspoed geleer het, “is dat ’n mens elke dag dankbaar moet wees vir dinge wat jy as vanselfsprekend aanvaar”.

Nie eens sy stemprobleme gaan Bobby oortuig om dinge rustig te vat nie. Stilsit is net nie vir hom ’n opsie nie. Sy vol dagboek pla hom nie, want dis hoe hy daarvan hou.

Hy het onlangs saam met twee vennote ’n restaurant met ’n strandtema, At the Beach, in Pretoria geopen, en binnekort open Bob’s Biltong & Coffee Bar sy deure ook in Pretoria. En daar is natuurlik die nuwe album in Maart, wat “my grootste album tot nog toe gaan wees”.

Dis nie al nie: Bobby en Karlien begin volgende jaar skiet aan die tweede seisoen van In Jou Skoene en ’n nuwe televisiereeks wat volgende jaar op die kassie gaan wees.

Oor dié reeks, waarin hy een van die hoofrolle vertolk, mag hy niks sê nie, behalwe dat dit sy idee en konsep was.

“Ek is baie opgewonde hieroor, want vir die eerste keer kon ek deel wees van die vorming van ’n televisiereeks,” sê hy.

Die pad vorentoe

Ander dinge wat die nuwe jaar vir hom inhou, is ’n moontlike toer na Australië en Amerika om daar vir Suid-Afrikaners te gaan sing.

As daar nou een ding is wat Bobby weet, is dit dat hy op die regte plek in sy lewe is.

“Ek het 30 geword. Dit was ook die ouderdom waarop Jesus gedoop is. Dit dui op geestelike volwassenheid. Dit was sy belangrikste tyd. Ek glo dis ook my belangrikste tyd.

Ek voel asof ek myself dikwels verloor, maar tog elke keer weer vind.

“Ek leer nog baie en maak nie maklik vrede met foute in myself nie. Maar ek wil graag groei tot waar ek my roeping uitleef en besef wat werklik saak maak in die lewe.

“Ek sien hierdie roeping nie as een spesifieke ding nie, maar wel om te probeer hoor en doen wat God se plan is vir my lewe.

“Ek voel bevoorreg oor dit wat vir my geleen en aan my toevertrou is, en ek probeer dit koester. “Ek voel asof ek myself dikwels verloor, maar tog elke keer weer vind.”

Soos hy in sy nuwe liedjie sing. . .

Verlore Seun

Plaas my in ’n boks, en ek sal skree totdat die wêreld my sal hoor, want geen mure sal my hou nie.
Sit my op ’n troon en jy sal jou respek verloor vir my
Want wat jy sien, is nie altyd wat jy kry.
Ek is ’n mens wat asem het
Wat val en lê
Wat foute maak en jammer sê
Soos ’n verlore seun ’n wegloopkind
Soms moet ek myself net weer vind
Maar bid vir my
Vergewe my
Onthou ek is net ’n mens soos jy.  

Foto: Louis Daniel Botha
Foto: Louis Daniel Botha
Foto: Louis Daniel Botha
Foto: Louis Daniel Botha
Foto: Louis Daniel Botha
Foto: Louis Daniel Botha
Foto: Louis Daniel Botha
Foto: Louis Daniel Botha

Waar kry hy daardie lyf?

Bobby het nog nooit van oefening gehou nie; tog dwing hy homself om te oefen wanneer hy die tyd kry.

  • Hy kom so twee keer per week in ’n gim, waar hy ’n uur lank die sweet laat tap met sowel kardio- as gewigsoefeninge.
  • Bobby het ook onlangs met die Body20-oefenprogram begin. Volgens Jacques Fagan, eienaar van Body20 in Silver Lakes in Pretoria, trek jy ’n baadjie met elektrodes aan wat aan al jou groot spiere gekoppel word. Jou liggaam word dan aan ’n masjien gekoppel en 20 minute lank doen jy stadige, beheerde oefeninge waartydens al 36 000 spiervesels in jou liggaam geaktiveer word.
  • Bobby volg nie ’n spesifieke eetplan nie. Hy probeer net gesond eet en kies in die week liewer hoender en vis as rooivleis. “Maar naweke eet ons lekker braaivleis. “Iets wat ek ook reg doen, is dat ek baie water drink. “En ek glo in ’n pynappel ná elke ete.”
  • Die sanger eet steeds ná elke maaltyd ’n pynappel nadat ’n dieetkundige hom vertel het dié vrug breek die kosse wat jy geëet het baie vinnig af
  • Foto’s: Louis Daniel Botha