KYK: Huweliksdrama toe man selfoonwinkel probeer omkoop...

akkreditasie
Stel jou voor: Jy is trots op jou werksetiek, en dan kom daar ’n versoeking in die vorm van geld om jou stilswye te koop vir iemand anders se brou-, of soos in hierdie geval moontlike kulwerk. Wat sal jy doen?

Dis die vraag waarmee ’n TikTok-gebruiker gekonfronteer is toe hy genader is om iemand se selfoon reg te maak, iets wat hy baie gewillig is om te doen. Maar, o aarde, daar’s ’n kinkel in die kabel wat hom ongemaklik maak, iets wat hy beslis nie verwag het nie . . .

In die video wat Maniwarda op TikTok deel, vertel hy hoe sy dag verloop het toe ’n man en sy vrou by sy foonherstelplek om hulp kom aanklop het.

Die 'stukkende' selfoon. Foto: TikTok-skermgreep/@
Die 'stukkende' selfoon. Foto: TikTok-skermgreep/@maniwarda

Die man het die slimfoon oorhandig en Maniwarda het geen probleem daarin gesien om die foon binne die volgende uur uit te sorteer nie. Toe hy egter die foon oopmaak, wag daar twee verrassings op hom: ’n nota en ’n verleidelike $100-noot.

Die nota wat in die selfoon versteek is. Foto: Tik
Die nota wat in die selfoon versteek is. Foto: TikTok-skermgreep/@maniwarda

In die nota word hy versoek om ’n leuen aan die eienaar van die slimfoon se vrou te vertel: “Sê asseblief vir my vrou die foon kan nie reggemaak word nie. Sy wil my oproepgeskiedenis nagaan. $100 is joune. Dankie.”

By die video skryf Maniwarda dis ongelooflik en dat hy nie kan glo die man het dit gedoen nie. Toe vra hy sy 50 000 TikTok-volgelinge wat hulle sou voorstel hy volgende moet doen. Die reaksie, nadat die video reeds 2,2 miljoen keer gekyk is, was uiteenlopend.

Van hulle het gevoel hy moet die “bro code” respekteer en die geld hou. ’n Ander stel voor hy moet die stukkende foon, nota en noot ingesluit, teruggee en sê hy het die probleem opgespoor.

Hoe dit ook al sy, toe die man se vrou terugkeer om die foon te kom haal, het Maniwarda besluit om oop kaarte te speel.

“Ek het nie die foon reggemaak nie,” bieg hy aan die vrou. “Ek het dit oopgemaak en dis wat binne-in was.”

Die niksvermoedende vrou lees die nota en toe spat die vonke.

“Ek wil nie hê julle ouens moet my hierby betrek nie,” probeer Maniwarda nog die situasie beredder. Maar daarvan wil die ontstoke vrou niks weet nie. Sy bied hom summier $200 om die foon reg te maak. Soos in nou.

In ’n opvolgvideo verduidelik Maniwarda waarom hy die besluit geneem het om eerlik met die vrou te wees.

Hy word gekritiseer omdat hy nie betrokke wou raak vir ’n $100 nie, maar ewe gou reggestaan het vir $200.

'Ek is grootgemaak deur ’n vrou, grootgemaak om re
'Ek is grootgemaak deur ’n vrou, grootgemaak om respek te betoon en eerlik te wees,' sê Maniwarda. Foto: TikTok-skermgreep/@maniwarda

“Geld beteken niks vir my nie.

“Ek is grootgemaak deur ’n vrou, grootgemaak om respek te betoon en eerlik te wees. En nog ’n ding: ‘Boy code’ is vir kleuters. Ek is ’n grootmens. Ek verwag nie van ’n 12-jarige om vir my van ‘boy code’ te vertel nie.”

Toe die beweerde verkuller opdaag vir sy selfoon, word hy ingelig dat Maniwarda dit reeds vir sy vrou gegee het.

“Maar dis hoekom ek daai nota daarin vir jou gelos het.”

Maniwarda hou vol hy wil nie betrokke raak by ander mense se probleme nie. Maar in plaas daarvan om te kalmeer, is dit behoorlik vet op die vuur en ’n paar keurige woorde word ingespan.

“Ek ken jou. Sy ken jou nie. Ek het vir jou die geld gegee, man,” stoom die woedende man voort. Asof dit nie genoeg is nie, breek hy boonop die beskermde skerm tussen Maniwarda en sy kliënte af en gooi hom daarmee.

Die woedende kliënt het Maniwarda met goed begin g
Die woedende kliënt het Maniwarda met goed begin gooi. Foto: TikTok-skermgreep/@maniwarda

Die einde van sage? Maniwarda moes die polisie se hulp inroep toe die man begin om goed in sy winkel te breek. Hy het ongedeerd daarvan afgekom. Maar of die ontstoke selfooneienaar dieselfde kan sê, is natuurlik ’n ope vraag.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees