Die Chinese vrou het gestruikel toe sy in die Conch-gebou in Zhongshan-Wes-weg in Shanghai by ’n hyser instap en die deure haar een been vasklem toe dit toemaak. 

Daily Mail berig die vrou was so besig op haar foon dat sy nie opgemerk het die hyser beweeg reeds toe sy daarin klim nie. 

Haar regterkuit en -voet het buite die hyser gebly toe dit aanhou opbeweeg en blykbaar haar been onder die knie afruk, volgens The Sun.

Die hyser het nog drie verdiepings opbeweeg terwyl die vrou op die vloer vir hulp gelê en wag het.

Op die video, wat eerste op die Chinese webtuiste Iqiyi gelaai is, kan gesien word ’n ander vrou ontsnap van die gevaarlike situasie, want sy klim nie in die foutiewe hyser nie. 

Uit die video blyk dit die vrou, wie se naam nie bekendgemaak is nie, se hele onderste helfte van haar regterbeen is heeltemal vergruis, volgens Metro.

Die voorval het blykbaar op 21 Junie verlede jaar plaasgevind, maar die video is eers onlangs openbaar gemaak. 

Die Chinese owerhede het geen verdere inligting bekendgemaak nie en dit is onbekend of die vrou die voorval oorleef het. 

Waarskuwing: Nie vir sensitiewe lesers nie.

Bronne: Metro, Daily Mail, The Sun, Iqyi