Dié twee, wat deur die #ImStaying-Facebookblad ontmoet en binne twee maande verloof geraak het, het aanvanklik besluit om in September ’n intieme trouseremonie in Pietermaritzburg te hou.

Maar toe word die nasionale inperking aangekondig. En sedert dit op 26 Maart om middernag begin het, is hulle dag en nag saam.

Om te wag tot September het skielik soos ’n ewigheid gevoel. Hulle wou nóú trou.

sinead harry,isaiah harry,#imstaying
Hulle het deur die #ImStayin-Facebookblad ontmoet. Foto: Facebook/@isaiahharry

Dié nóú word toe op 24 April ’n virtuele troue in die sitkamer van hul huis in Pretoria. 

“Dit was my idee om nou te trou omdat ons intussen besluit het om in die hof te gaan trou sodra alles weer oopmaak, want ons wou nie langer wag om wettiglik getroud te wees nie,” vertel Sinead. 

Die paartjie se paaie het in Januarie vanjaar gekruis toe sy ’n opmerking gemaak het op Isaiah se #ImStaying-inskrywing op Facebook

#imstaying,troue,ringe
Die paartjie het silikonringe gebruik. Foto: Verskaf

Hulle het dadelik begin gesels oor hul troudag en op Valentynsdag het hy op een knie gesak en haar gevra om sy vrou te word. 

Volgens Sinead is dit juis Isaiah wat die pastoor gekontak het om uit te vind of hy ’n virtuele troue kon doen, en hy het dadelik ingestem. 

“Ons vriendin het vir ons ’n koek geskenk en ons het die versierings van ons verlowing gebruik to set the tone a bit.” 

sinead harry,isaiah harry,#imstaying
Isaiah en Sinead kon nie meer wag om man en vrou te wees nie. Foto: Verskaf

“Dit was eintlik baie spesiaal. Alhoewel elke meisie ’n sprokiestroue wil hê, het ek in my hart geweet die rede hoekom ek met Isaiah wil trou was nie oor die grand affêre nie, maar oor ons huwelik, en dit is die belangrikste vir my,” vertel Sinead. 

Daarom het sy glad nie omgegee dat sy ’n ou rok aangehad het en dat hulle silikoonringe moes gebruik nie.

“Om hom uiteindelik my man te noem, is die beste ding ooit,” sê sy.

Die paartjie beplan wel om in Desember vanjaar ’n dag te hê waar hulle die nuwe hoofstuk in hul lewe saam met hul families kan vier.

“Maar selfs as dit nooit gebeur nie, is ons gelukkig en geseënd met dit was ons het.”

inperking,troue
Die paartjie se virtuele troue was op Vrydag, 24 April. Foto: Verskaf

“Ons beplan beslis ’n romantiese naweek of ’n nag weg om dit te vier, maar met ’n man soos Isaiah is elke dag ’n wittebrood,” borrel sy.

Sinead het nog net een keer sedert hul verlowing teruggekeer na Pietermaritzburg om die res van haar goed te gaan haal en noem deesdae Pretoria haar huis. 

Die paartjie het tot dusver ook ’n ongelooflike inperking gehad deur saam kos te maak, te bak, saam televisie te kyk en gehaltetyd saam te spandeer.

sinead harry,isaiah harry,#imstaying
'n Vriendin van die paartjie het vir hulle 'n troukoek geskenk. Foto: Verskaf

“Die inperking is ’n wonderlike toets vir ons verhouding en ons het soveel van mekaar geleer,” sê sy. 

Al werk sy nie op die oomblik nie, werk Isaiah nog elke dag van die huis af.

“Dit is wonderlik om soveel dinge saam te doen tussendeur sy vergaderings en werkslading. Hy maak ook baie tyd om my te bederf en is die beste man waarvoor ’n meisie kon vra,” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.