Terwyl Hannah Viverette van Hagerstown in Maryland, Amerika, net ná tienuur die aand van 22 November besig was om haarself aan't dans met haar selfoon af te neem, het sy ’n onwelkome verrassing gekry. 

Sy was besig om ’n video vir TikTok te maak toe sy 10 sekondes ná die begin van die opname groot geskrik het. ’n Man, wat haar glo al ’n hele ruk lank lastig val en soms vanuit sy voertuig dophou, het op die balkon van haar woonstel op die tweede vloer geklim en by die leefvertrek ingestap.

Dit is alles op kamera vasgevang en Hannah het dit ná die tyd op TikTok gedeel. Meer as 40 miljoen mense het reeds die skokvideo op dié sosialemediaplatform gekyk. 

Hannah vertel dat sy eers gedink het dit is die wind wat die balkondeur oopgewaai het, maar toe staan die man daar.

“My hele wêreld het tot stilstand gekom.”

In die video kan 'n mens hoor en sien hoe Hannah die man vra wie hy is en dat hy asseblief uit haar woonstel moet gaan. Dan hardloop sy met haar selfoon in haar hand by die woonstel se voordeur uit en skreeu dan buite van die trappe af vir die indringer om haar woonstel te verlaat.

Die man, geklee in ’n rooi kappietop, trek dan die deur agter hom toe en verdwyn, waarna Hannah by haar buurvrou aanklop. Dié laat haar in en Hannah skakel dan die nooddienste. Sy het eers ná die tyd besef sy ken die man. 

“Ek het hom al ’n hele paar keer in die woonstelkompleks gesien, maar het niks van hom geweet nie.” Hy het haar glo gereeld aangestaar. “Hy't my opsetlik ongemaklik laat voel,” het sy gesê.

Die polisie het veertig minute later opgedaag. Nadat Hannah die video vir hulle gewys het, is die man ene Angel Moises Rodriquez-Gomez in hegtenis geneem en het hy 'n nag in die selle deurgebring. Hy is intussen op borgtog vrygelaat en weer terug in die woonstelkompleks waar Hannah ook woon. Rodriquez-Gomez gaan glo eers op 14 Desember kan uittrek.

“Dit is nog twee weke voor hy uit is. Dit is nie vir my aanvaarbaar nie,” het Hannah aan Buzzfeed gesê. Sy het ’n veiligheidsbevel teen die man gekry en kry tans terapie en ondersteuning van haar vriende en familie.

Bronne: Buzzfeed, NBCnews

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe