’n Mens hoor die stem oor die megafoon van ver af. Wanneer jy naderstap om ondersoek in te stel, sien jy sommer vinnig wat die rede vir die laatoggend-kabaal is. En ’n mens kan nie help om van oor tot oor te glimlag nie. 

Op die balkon van byna elke woonstel van die Oasis Luxury Retirement Resort in Century City, Kaapstad, staan ’n afgetrede inwoner en strek. 

“Die Oasis-gemeenskapsverpleegster, Suster Deneil Lehmann, het met die briljante plan vorendag gekom toe die inperking begin het,” vertel Karen Rae, bestuurder van die aftree-oord. 


Sy vertel dat die oord se bestuurspan besig was om een oggend tydens ’n vergadering deur die oord se tuine te stap, toe Deneil na die hoë woonstelblokke opkyk. “Sy het voorgestel dat ons terras-oefeninge aanbied terwyl die instrukteurs hier onder staan,” vertel Karen. 

Toe die oorspronklike inperking van drie weke, met ’n verdere twee weke verleng is, het hulle met die beplanning vir dié nuwe oefensessies begin. 

“Die inwoners het hul groepaktiwiteite en oefeninge erg begin mis. En op die manier kon hulle iets saam doen, terwyl hulle steeds apart is. So dit is sommer goed vir hul geestesgesondheid ook,” sê Karen. 

Sy vertel dat vóór COVID-19 die wêreld op sy kop kom keer het, baie van die inwoners van die aftreeoord swem of aërobiese oefeninge in die die swembad gedoen het. Die oord bied ook verskeie strek- en oefenklasse, selfs ’n paar dansgroepe.

Een van die Oasis Luxury Retirement Resort se woon
Een van die Oasis Luxury Retirement Resort se woonstelblokke. Foto: Charlea Sieberhagen-Grey

Boonop kon die inwoners ook gereeld in die tuin gaan stap. Maar sedert die inperking en aangesien mense nou sosiale distansiëring moet toepas, kan die meeste van dié aktiwiteite nie plaasvind nie. 

Die balkon-oefeninge op Maandae, Woensdae en Vrydae, was egter die perfekte oplossing. 

“Elke roetine duur omtrent 15 minute. Dit is meestal strekoefeninge waartydens ’n stoel gebruik word. Maar dit is goeie oefening,” sê Karen.

Sy vertel dat die oefenroetine op verskillende plekke in die tuin herhaal word sodat die inwoners van elk van die ses woonstelblokke kan deelneem. 

Personeel van die oord, soos die biokinetikus Nicola Teich, wat gewoonlik die water- aërobiese oefeninge aanbied, bied nou die balkonoefeninge aan. Die aftreeoord se operasionele bestuurder, William Mc Murthie en André van Wyk, die veiligheidstoesighouer sit ook hand by. Volgens Karen spring van die ander personeellede soms in om te help om die oefeninge te demonstreer. 

Personeel van die aftreeoord wys vir die inwoners
Personeel van die aftreeoord wys vir die inwoners watter oefeninge hulle moet doen. Foto: Verskaf

Sowat die helfte van die inwoners van elke woonstelblok neem dan gretig deel.

“Maar dit hang maar af van die dag. Altesaam is dit gewoonlik so tussen 120 en 150 inwoners per dag wat deelneem. En hulle is gek daaroor,” vertel sy verder.

Volgens Karen is die inwoners van die aftreeoord oor die algemeen baie aktief en sosiaal. “So die inperking is besonder moeilik, veral vir die mense wat alleen isoleer. Maar daar is begrip vir die verhoogde risiko vir bejaardes en hulle aanvaar dat hierdie herfs en winter baie anders as ander jare sal wees. Tog is daar ook hoop vir ’n tyd wanneer dinge weer anders gaan wees,” sê Karen. 

Sy sê hulle beplan om voort te gaan met die balkonoefeninge ten spyte van die verslapping van die inperking en die nuwe regulasies vir oefening tussen 06:00 en 09:00 in die oggend.